
Die konflik tussen Rusland en Oekraïne plaas al hoe meer druk op die logistiek van woluitvoer, het mnr. Leon de Beer, bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), op die Oos-Kaapse tak van die NWKV se kongres in Komani gesê.
“Ons sukkel reeds om wol uit te voer weens die probleme by die hawens en Transnet. Na gelang van hoe lank dit gaan aanhou, gaan ons al hoe groter druk voel ten opsigte van insetkoste, met die prys van brandstof en kunsmis wat die hoogte inskiet.”
Volgens De Beer is die bedryf optimisties. As daar wel ’n oorlog uitbreek, kan die wolbedryf bevoordeel word as die soldate warm wolklere sou benodig.
Bottelnek
Die bedryf het in Februarie die 22ste wolveiling vir die seisoen met ’n week uitgestel weens die uitvoerprobleme.“Die probleem is dat daar vyf of ses wolkopers in Suid-Afrika is, wat elke week ’n begroting het om van R50 miljoen tot R100 miljoen se wol te koop,” het mnr. Jacques le Roux, OVK se hoofbestuurder van vesel, gesê.
“As daar 100 vraghouers van ’n wolkoper op die kaai staan wat nie uitgevoer kan word nie, het dit ’n reuse-effek op sy kontantvloei.”OVK werk tans onder meer met Agbiz saam om oplossings vir die probleem aan die regering en Transnet voor te lê. Agbiz sal Transnet onder meer met logistieke beplanning bystaan.
Een van die langtermynplanne is dat Transnet tenders aanvra vir die privatisering van sy verskepingsafdeling.
Haweprobleme
Die internasionale standaard vir die pak van vraghouers op skepe is 25 per dag. Suid-Afrika pak tans van 6 tot 12 per dag.
“Die probleem is nie net die onbevoegdheid van plaaslike hawens nie. Die tekort aan vraghouers is internasionaal ’n probleem,” het Le Roux gesê.
Die probleem word vererger aangesien dit winsgewender is vir vragskepe om ander roetes te vaar as om na Suid-Afrika te kom. Daarom vermy baie vragskepe Suid-Afrikaanse hawens. Dit veroorsaak dat vragskiphouers ophoop en nie uitgevoer word nie.
Die wolbedryf het onder meer besluit om elke Vrydag bymekaar te kom om die week se ontwikkelinge te beoordeel en dan te besluit oor die komende week se wolveiling.
Le Roux het gesê daar moet op kort termyn gebeurlikheidsplanne wees, soos dat die aantal bale per veiling beperk kan word. Die besluit kan ook ’n impak op pryse hê. Wanneer kopers nie geld het nie, sal hulle nie toppryse vir wol kan betaal nie.
Pryse kan in die komende ruk wisselvallig wees weens die oorlog in Oekraïne en die covid-19-pandemie. Covid-19 is steeds teenwoordig in China en dit raak verbruikersvertroue.