Die produsenteprys sal met gemiddeld 28% moet styg om die melkboer ’n kans te gee om lewensvatbaar te bly. Die wisselwerking met die res van die waardeketting gaan onder groot druk wees, meen mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO).
“Uiteindelik gaan dit oor die verbruiker wat ook onder druk is weens onder meer geadministreerde pryse wat aggressief gestyg het. “Die belanghebbendes laer af in die suiwelwaardeketting sal daadwerklik kostestrukture moet ondersoek. Doeltreffendheid in die waardetoevoegingsdeel van die waardeketting sal onder die vergrootglas geplaas moet word om die bekostigbaarheid van finale produkte te beskerm.”
Volgens Van Heerden het insetkoste in die breë landbousektor in sommige gevalle meer as verdubbel. Die gepaardgaande risiko’s is ingewikkelder as gewoonlik weens die wisselvalligheid in van die insetmarkte.