Volgens me. Rienette Colesky, bestuurder van die Gamtoosbesproeiingsraad, word verskeie projekte reeds sedert die vroeë 2000’s in die Oos-Kaap uitgevoer namens die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, en die departement van water en sanitasie.
Die span het in die afgelope boekjaar onder meer uitheemse plante in die Kouga- en Krommerivier se opvangsgebied bekamp en vleilandrehabilitasie in die Diep- en Krommerivier aangepak. Die werk is tot voordeel van die Churchill-, Mpofu- en Kougadam wat water aan die Nelson Mandela-metropool verskaf.
Volgens Colesky word bestaande vleilande tot hul natuurlike toestand gerehabiliteer nadat hulle onder meer deur boerderypraktyke weggekalwe is.Vleilandgrond is baie vrugbaar.