Die afgelope tyd hoor ’n mens al hoe meer dat die natuur – en nie die mens nie – moet besluit met watter vleisbeeste geboer moet word. Dit kom daarop neer dat natuurlike seleksie, en nie kunsmatige seleksie nie, gebruik moet word om teeldiere te selekteer.
Dié siening het sy oorsprong in die feit dat daar nie ’n duidelike onderskeid getref word tussen genetiese verandering en genetiese verbetering wat met seleksie verkry kan word nie. Dit is belangrik om teeldoelwitte te identifiseer wat produksiedoeltreffendheid van vleisbeeste kan verbeter.
Variasie tussen diere, tussen rasse en oor tyd bied die potensiaal vir verbetering deur kunsmatige seleksie. Natuurlike seleksie is ook van dieselfde verskille afhanklik.