
Luidens ’n verklaring van die eThekwini-munisipaliteit, wat ’n mede-fasiliteerder en -finansier van hierdie inisiatief is, is die voerkraal bedoel om ’n reeks werksgeleenthede vir werklose jeugdiges in die munisipaliteit te skep.
Die skaarvoerkraal is by die Cato Ridge-agripark. Luidens die verklaring is met navorsing vasgestel dat die eThekwini-metropool, wat Durban insluit, ’n groot mark vir lams- en skaapvleis het.
“Skaapproduksie in die hele KwaZulu-Natal bly egter onder 5% van die totale nasionale produksie, wat beteken ons is verbruikers en nie produsente nie. Die voerkraal is ons reaksie op hierdie aanvraag,” het mnr. Mxolisi Kaunda, eThekwini se burgemeester, by die bekendstelling gesê.
Die nuwe skaapvoerkraalaanleg kan 2 000 diere op enige gegewe tydstip huisves en kan jaarliks ongeveer 12 000 skape afrond.
Begunstigdes van die werksgeleenthede wat geskep word deur dié nuwe skaapvoerkraal, wat sowat 50 km van Durban af is, is onder meer 20 voormalige werknemers van die plaaslike Rainbow Chicken-verwerkingsaanleg wat ’n paar jaar gelede gesluit is.
Mnr. Sifiso Myeni, uitvoerende hoof van die Agriculture House-groep, het luidens die verklaring gesê dat sy maatskappy se filiaal, KwaZulu-Natal Lamb, skaapproduksie-opleiding aan die voerkraal se aanvanklike werknemers verskaf het.
“Ons werk het begin met ons proeflopie met 62 skape. Hierdie skape is deur ’n Pick n Pay-winkel gekoop met ’n langtermyn-opvolgbestelling om 2 000 skape maandeliks aan die winkel te lewer,” het Myeni voortgegaan.
Kaunda het gesê die munisipaliteit soek vennote om sowat R40 miljoen te belê om te help met die uitbreiding van skaapproduksie binne die munisipaliteit.
“Ons wil graag vinnige groei sien om 600 000 skape en lammers per jaar in die westelike gebiede van die stad te lewer. Dit sal dit die grootste voerkraal in die provinsie maak.”
Hy het bygevoeg dat nog ’n plan is om bestaande abattoirs te heropen of nuwe abattoirs te bou om die beoogde groeiende skaapproduksie binne die munisipale gebied te verwerk.