As Suid-Afrika ’n nasionale gewas gehad het, sou dit beslis lusern wees. Benewens dat dit so wyd en in so ’n verskeidenheid stelsels verbou word, is dit ’n uitstekende weidingsgewas en een van die beste hooigewasse vir ’n voerbank.
Dié somergroeiende gewas met sy hoë proteïenhoud kan bewei of vir groenvoer gesny word, winddroog gebaal, gemaal of verkorrel word. Boonop kan dit wisselboustelsels versterk deur stikstof uit die atmosfeer in die grond te bind.
Lusern word op groot skaal in die besproeiingsgebiede langs riviere verbou, gebaal en verkoop, maar dit vorm ook ’n belangrike deel van langrotasie-gewasverbouings-en-weidingstelsels in gemengde boerderye in die Overberg.