AFGRI
BEAN
30 Sep
-
9380
24,00
CORN
30 Sep
-
4790
2,00
SOYA
30 Sep
-
9485
93,00
SUNS
30 Sep
-
10235
30,00
WEAT
30 Sep
-
7119,8
19,80
WMAZ
30 Sep
-
4840
22,00
YMAZ
30 Sep
-
4788,2
28,20
AMT
Ave Wool - Non RWS
16 Sep
-
166,31
0,00
Ave Wool - RWS
16 Sep
-
174,76
0,00
Beeste A2/3
16 Sep
-
60,68
-0,67
Beeste AB2/3
16 Sep
-
56,6
-0,92
Beeste B2/3
16 Sep
-
52,85
-1,51
Beeste C2/3
16 Sep
-
50,84
1,51
Bevrore Hoender
16 Sep
-
31,02
-0,01
Bokkies (onder 30 kg)
16 Sep
-
75,48
18,07
Bokooie
16 Sep
-
45,78
3,28
Groot (meer as 40 kg)
16 Sep
-
44,01
5,77
Hoender (IQF)
16 Sep
-
30,23
0,48
Medium (30-40kg)
16 Sep
-
53,08
10,03
Pork Average
16 Sep
-
27,22
-0,34
Poultry Average
16 Sep
-
31,03
-0,15
Skaap A2/3
16 Sep
-
95,57
2,81
Skaap AB2/3
16 Sep
-
86
2,91
Skaap B2/3
16 Sep
-
79,77
0,66
Skaap C2/3
16 Sep
-
75,06
0,47
Speenkalf
16 Sep
-
37,59
-0,66
Spekvarke
16 Sep
-
27,98
-0,75
Stoorlammers
16 Sep
-
43,3
0,38
Varkwors
16 Sep
-
22,4
-0,17
Vars Hoender
16 Sep
-
31,83
-0,92
Vleisvarke
16 Sep
-
27,17
-0,28

Maravillosa! Vrystater boer vooruit in Paraguay

akkreditasie
Mnr. Jaco Brits  FOTO’S: VERSKAF
Mnr. Jaco Brits FOTO’S: VERSKAF
Van Dorper-spesialis en uitvoervleisbeesboer tot houtprodusent en abattoir-eienaar — die oud-Vrystater mnr. Jaco Brits, wat al 27 jaar lank in Paraguay boer, beweeg naatloos tussen sy plaasrolle in Suid-Amerika.

Met plase wat 650 km van mekaar geleë is in dele met uiteenlopende toestan- de, kos dit goeie beplanning en raakvat-boerdery om oral suksesvol vooruit te gaan. Dit is presies wat mnr. Jaco Brits, deurwinterde boer van Paraguay, doen sedert hy hom 27 jaar gelede daar gaan vestig het.

Brits boer op plase in die ooste en weste van die land met ’n Dorper-stoetery, kommersiële skape en Borantipe vleisbeeste, produseer hout in sy plantasies, maak voer van aangeplante weidings, besit sy eie slaghuis en vleisverwerkingsaanleg en lewer beesvleis aan die uitvoermark.

Brits, sy vrou, Alta, hul drie kinders, Janneman, Willemien en Petri, en Brits se ouers, Mike en Anna, het in 1994 sak en pak van Vrede na Paraguay verhuis. “Die grond was goedkoper en die voorwaardes makliker as in Australië en Nieu-Seeland, wat ons ook aanvanklik oorweeg het.”

Die goeie, diep rooigrond en baie reën in Paraguay het hierdie Vrystaters soos ’n magneet aangetrek. Hul woonplaas in die ooste heet Cabaña Doña Ana (direk na Afrikaans vertaal as “tant Anna se stoetery”) en is naby die dorp Caaguazú in die distrik met dieselfde naam geleë.

Dit is hul permanente woonplek en waar hy sy skaapboerdery het, met beeste boer, voer op aangeplante weidings produseer en plantasies gevestig het.

Dié plaas beslaan net 23 ha, maar hy boer op nóg ’n plaas, Estancia Don Eric van 700 ha. Hierdie plaas behoort aan dr. Eric de Beer van Rustenburg.

Hoewel De Beer twee jaar gelede oorlede is, gaan die vennootskapsboerdery voort. Die boerdery bestaan uit die Cabaña Doña Ana-Dorper-stoetery (privaat), die Agroganadera HB Union-beesboerdery (’n maatskappy saam met ’n Duitse vennoot, Manfred Hieber) en die Estancia Don Eric-bees-en- skaapboerdery in vennootskap met die De Beer-familie.

Brits by een van sy Boran-bulle. Hy boer reeds die afgelope 27 jaar met beeste en skape in Paraguay.

Van woudgrond tot saaiery

Caaguazú het voorheen grootliks uit woude bestaan en toe was beesboerdery algemeen. Die bome is mettertyd uitgehaal om vir saaiboerdery plek te maak omdat die tropiese klimaat meer geskik is daarvoor.

Vandag is daardie grond baie duur, nie meer lonend vir ekstensiewe veeboerdery nie en saaiery is die norm. Boere oes drie keer per jaar danksy die hoë reënval wat 1 500 mm tot 2 200 mm per jaar beloop. Die gebied het baie diep rooigrond met ’n hoë klei-inhoud.

Die boere plant in Augustus en September sojabone (die belangrikste gewas) en mielies, en oes dit gedurende Desember en Januarie. Direk agter die stroper loop die planters om weer sojabone of mielies te plant wat in April en Mei gestroop word.

Daarna plant hulle hawer of koring as winterdekgewas. Sommige boere oes die dekgewasse, terwyl ander dit met chemikalieë doodspuit om weer mielies of sojabone te plant.

Brits het ook eers gesaai, maar later daarmee opgehou om hom eerder heeltyds op die skaap-en-beesboerdery toe te spits, waarvan laasgenoemde die grootste vertakking is.

’n Klompie van Brits se Dorper- stoetskape. Die skaapboerdery is net op die plase in die ooste. Die Brits- familie het al heelwat Dorper- embrio’s van Suid- Afrika ingevoer wat hulle by vooraanstaande telers gekoop het.

Skape in die ooste

Die skaapboerdery is net op die plase in die ooste. Meerjarige aangeplante Brachiaria- en Panicum-grasse verskaf kos vir die skape. Dit word bemes omdat die baie reën die voedingstowwe uitwas.

Die Britse het al heelwat Dorper-embrio’s van Suid-Afrika ingevoer wat hulle by telers soos mnre. Peet Cilliers, Niekie Cilliers, Hendri van Wyk, Andries van Niekerk, Isak Nel, Gary Simon, Francois Botha en me. Colleen Grevelinck gekoop het.

In hul omgewing is parasiete en vrotpootjie vanweë die baie reën die grootste probleme omdat die Dorper nie juis vir nat toestande geteel is nie.

“Die ras is egter baie goed aangepas en ek kan regtig nie kla nie. Die Dorper is baie gewild en ek sien die skape oral by ander boere in die land, van die nat dele tot suurveld en bosagtige gebiede. Die meeste boere gebruik hulle vir kruisteling.”

Die meeste ander boere wat met skape boer, het net klein stukkies grond van 10-20 ha wat grootliks vir naweekboerdery besit word. Dit is dus geskik vir skape wat dié plasies produktiewer maak. Van die naweekboere het kuddes van tot 200 skape en die meeste boer kommersieel met die Dorper.

Intensiewe boerdery

Brits se skaapboerdery het oor die jare sterk gegroei. Dit is nou ’n intensiewe vertakking wat gemik is op die teel van slaglammers en die verkoop en uitvoer van stoetramme en -ooie. Hy sê dit het egter te groot geword vir die klein plasie en hy is besig om effens af te skaal.

Dit is tans ook baie arbeidsintensief. Die skape moet daagliks vir parasiete en vrotpootjie ondersoek word. Die Dorper-stoetery bestaan uit sowat 500 skape en beslaan 25% van die skaapboerdery. Die res is kommersiële Dorpers wat uit ongeveer 1 500 tot 1 600 skape bestaan.

Die meeste skaapboere in Paraguay se dektyd is Februarie tot April en lamtyd duur van Julie tot September. Aangesien dit baie warm in die somer is en die lugvog baie hoog gedurende die reëntyd is, skep dit veral probleme met in- en uitwendige parasiete.

Daarom het Brits na dektye regdeur die jaar oorgeskakel omdat dit ook verseker dat hy voortdurend slaglammers het om vleis aan sy klante te voorsien. Hy rond sy speenlammers self in sy plaasvoerkraal af.

Hy het sy eie slag- en vleisverwerkingaanleg waar die karkasse opgesny en die snitte vakuumverpak word. Dit word dan aan sy seun Petri se besigheid in Caaguazú gelewer wat die bemarking behartig.

Hulle maak ook skaapwors wat voorheen onbekend in Paraguay was omdat dit grootliks ’n beesland is. Die skaapwors word al hoe gewilder.

Seleksie en voerkraal

Die kwessie is om die lammers so vinnig moontlik te laat uitgroei en in die voerkraal vet te maak sodat die ooie en volgende groep lammers genoeg weispasie het.

Elke dektyd duur 35 dae. Dan word die ramme uitgehaal. Dertig dae daarna ondergaan die ooie sonartoetse vir dragtigheid, wat normaalweg 85-95% beloop. Die enkele ooie wat nie dragtig is nie, word na die volgende dektyd aangeskuif.

As ’n ooi haar tweede dekkans verspeel, word sy geslag. Die lammers word op 70 dae teen sowat 20-30 kg gespeen. Hulle gaan dan na ’n semi-voerkraalstelsel op die weiding waar hulle uitgroei.

Op vyf tot ses maande oud eindig hierdie fase en word hulle vir nog ’n maand in die plaas se voerkraal afgerond. Met slagtyd lewer hulle ’n karkas van 18-22 kg.

Brits keur al die ram- en ooilammers wanneer hulle tien tot twaalf maande oud is om te bepaal watter lammers vir die stoetery geskik is. Hy is ’n gekwalifiseerde Dorper-keurder en behartig hierdie taak self.

In hierdie stelsel selekteer hy vir aanpasbaarheid deur die ooie enige tyd van die jaar te laat dek. Aanpasbaarheid gaan vir hom hand aan hand met vrugbaarheid.

Hy kruis ook plaaslike Santa Inês-ooie (’n Brasiliaanse vleisskaapras) met Dorper-stoetramme. Dié kruising noem hy Dornês. Dit lyk baie soos ’n Damara sonder ’n vetstert. Hy volg dieselfde dek-, lam-, speen- en slagtye met al die skape.

Boran-bulle op die beesplaas in die Chaco-streek, sowat 650 km van Brits se woonplaas in die ooste. Chaco is droër en warmer en word deur ’n Bosveldtipe landskap gekenmerk. Die reënval wissel van 700 mm tot 1 100 mm per jaar.

Beesboerdery

Die beesboerdery is oorgeskuif na die Chaco-streek, wat sowat 650 km van Brits se woonplaas geleë is. Chaco is droër en warmer en word deur ’n soort Bosveld-landskap gekenmerk.

Daar boer hy 100% ekstensief op die veld. Brits tree ook as konsultant vir verskeie ander maatskappye in die beesbedryf op. Daarby het hy ’n gesamentlike stoetery met vier Duitse vennote. Die stoetery verskaf die bulle vir Brits se ekstensiewe, kommersiële vleisbeesboerdery.

Hulle teel merendeels Bonsmara-Boran-kruiskalwers. Hy maak deesdae minder gebruik van kunsmatige inseminasie op die koeie as voorheen (nou net omtrent 25%) omdat baie geskikte stoetbulle uit die gesamentlike stoetery beskikbaar is.

Brits is lid van Veldbul SA, wat onder leiding van dr. Hannes Dreyer van Vrede bulle op die veld evalueer. Brits en sy stoeteryvennote behartig hul eie veldbultoetse volgens Dreyer se riglyne en gebruik bulle wat die veldtoets slaag vir ’n jaar by die koeie voordat hulle verkoop word.

Dreyer staan hom deurgaans oor die groot afstand by met raad oor die teel en keuring van goeie veldbulle. Speenbulle wat nie as kuddebulle geklas word nie, word gekastreer en op die veld vetgemaak. Brits koop ook speenkalwers by ander boere.

Die jong osse loop vir 18-24 maande op die veld totdat hulle 250-270 kg uitslag. Die minimum vereiste vir die uitvoermark is 220 kg aan die haak. Hulle is dan tweetand-osse. Paraguay het sewe goedgekeurde abattoirs vir uitvoer en elkeen slag 300-500 beeste per dag.

Daar is goeie Brafords en Brangusse in Paraguay en Brits gebruik hulle ook vir kruis- teling. Die seboe-nasate is minder onderhewig aan besmetting met bosluise as die Europese rasse, sê hy. Die Brahman en Nelore is die gewildste beesrasse in die land.

Paraguay voer beesvleis uit na onder meer Europa, wat vereis dat die vleis afkomstig moet wees van beeste met minstens 50% Europese beesgene.

Daarom speel Brits rond met die kruisings tussen die Boran, Brangus en Braford by Bonsmara-koeie sodat die nageslag aan daardie vereiste voldoen.

“Hoewel dit vir die invoerlande moeilik sal wees om te bepaal of uitvoerlande hulle by die reël hou, is dit vir my belangrik om dit reg te doen omdat dit vorentoe sekerlik strenger afgedwing sal word.”

Paraguay voer ook vleis na Chili en ander lande uit. Hy het twee dektye. Die eerste is van 1 Ok- tober tot 30 Desember vir koeie, en strek oor 90 dae om lentekalwers te lewer wat op sewe maande gespeen word wanneer hulle sowat 220 kg weeg.

Van Maart tot Mei word verse oor ’n tydperk van 45 dae gedek. Hul kalwers word op vyf maande gespeen. Dan word hulle weer gedek of kunsmatig geïnsemineer sodat hulle die tweede keer saam met die koeie kalf.

Die dragtigheid wissel van 82% tot 90%. Koeie wat die jaar nie ’n kalf grootmaak nie, word geslag. Net die eerstekalfkoeie word ’n tweede kans gegee.

Die veld se drakrag is twee beeste of tien skape per hektaar op die plase in die ooste. In die stoeterye waarvoor hy ook hooi en kuilvoer vir die winter maak, boer hy met sowat 35 skape per hektaar.

Die Brits- familie het hulle by Caaguazú in die suidelike sentrale deel van Oriental gaan vestig. Dit staan as die houthoofstad van Paraguay bekend danksy die baie plantasies en saagmeulens in die omgewing.

Klein en groter plase

Die plase is vanweë die duur grond in die ooste nie baie groot nie, en daarom hou boere baie minder beeste as voorheen aan. In die Duitse kolonies is daar baie kleiner plase van 150-500 ha, maar daardie boere is grootliks melk- en saaiboere wat baie intensief boer.

In die bosveld van Chaco met sy oorwegend buffelgrasse is die ekstensiewe plase groter en beslaan 1 000 ha tot 5 000 ha. Daar gebruik Brits ’n agtkampstelsel vir sy verskillende kuddes. Elke trop van 200-220 beeste het agt kampe van 20-25 ha elk waar hy wisselweiding toepas.

Hy volg hierdie kampstelsel ook in die boerderye in vennootskap met ander boere. Die belading beloop gemiddeld 1,3 beeste/ha. Met koeie is die belading effens ligter en vir vetmaakbeeste ’n bietjie swaarder. Die grond is fosfaatryk en geen lek is nodig nie.

Weens las met roofdiere soos jaguars en poemas hou Jaco net ’n klein troppie skape vir eie gebruik in Chaco aan. Die bosluisdruk is hoog en rooiwater en hartwater kom algemeen voor.

Die skape het ook baie las van wurms. Al die middels wat in Suid-Afrika vir dieregesondheid beskikbaar is, word ook in Paraguay verkoop.

Waterplanne in die weste

Watervoorsiening is ’n groot struikelblok in Chaco waar dit soms vir tot ses maande nie reën nie. In sommige dele is geen ondergrondse water nie. Gevolglik maak die boere oral damme, elk so groot soos ’n rugbyveld.

’n Gebied van 10-15 ha rondom elke grond- dam word vir wateropvangs gebruik. Die grond wat uitgehaal word om ’n dam te maak, word op een plek opgehoop. Daarop bou hulle dan ’n platform met ’n grondreservoir bo-op wat nagenoeg 6 meter bokant die gronddam uittroon.

Die water word na die reservoir gepomp. Van daar vloei die water met plastiekpype na die krippe in die weikampe. Van die water is brak en moet met goeie water gemeng word.

Boorgate kan op sekere plekke gesink word waar die watervlak 5-12 m diep is, maar dieper is die water sout. Op ander plekke moet boere 180-220 m diep boor om bruikbare water te kry.

Waterryke ooste

Brits se grond in die ooste is egter waterryk en daar is oral spruite. “Ek het water net waar jy kyk. Jy boor net waar jy wil en jy sal goeie water kry. Daarom boor ons sommer langs die naaste kragpunt!” Sterk syferwater word op ’n diepte van 50-100 m gekry.

Plek-plek is die water brak en moet dit met goeie water gemeng word. Hy pomp die water met elektriese of sonkragpompe vanuit boorgate of spruite met 5 cm-plastiekpype na groot waterkrippe van 7 500 liter tot 10 000 liter wat van sement gemaak is.

Dit word deur die verskaffer op die plaas gegiet, net waar die boer dit wil hê. Brits meen windpompe se dae is getel, want daar is oral elektrisiteit en sonkrag beskikbaar om pompe aan te dryf.

Afset van produkte

Brits verkoop stoetskape vanaf sy huis danksy die bekendheid van die stoetery. Die boerdery het al stoetskape na Argentinië uitgevoer. Hy verwag daardie mark gaan baie groei omdat dié buurland sy skaapboerdery sterk uitbrei. Die Dorper het al goed daar posgevat.

Dekseisoene word só gereël dat daar dwarsdeur die jaar slaglammers beskikbaar is. Uitskotramme en ou ooie gaan deur die meule vir boerewors, wat baie gewild geword het. Stoet- en kudderamme word regdeur die jaar aangebied. Brits is een van die grootste ramverkopers in Paraguay.

Sy woonplaas is net 7 km van die dorp Caaguazú, wat baie slaghuise en winkels het aan wie hy vleis verkoop. Hy verkoop ook hamels aan die publiek. Beeste word direk aan ’n uitvoerabattoir gelewer. Die meeste veilings is aanlyn en kopers kan dus van hul huise af bie.

Groot speenkalfveilings word in ’n hotel gehou waar kopers die lotte diere op groot televisieskerms besigtig en dan daarop bie. Tot 10 000 speenkalwers word op ’n keer só opgeveil.

Beesgroepe verkoop ook hul diere op hierdie wyse nadat die beeste vooraf beoordeel en geklas, en video’s gewys is.

Skoue is gewild

Brits skou al vir baie jare met die Dorpers en sit hulle ook daar van die hand. Daar is sowat 12 skoue per jaar in Paraguay, behalwe in 2020 toe die covid-19-pandemie ’n stokkie daarvoor gesteek het.

“Die mense hier is skoumal. Ek self is nie so gek daarna nie omdat ek my diere te vet moet voer, wat teen my beginsels indruis om van die veld af te bemark.

Skoue bied my egter die geleentheid om te adverteer en my teelmateriaal in kompetisies te wys.” Brits neem gewoonlik aan drie of vier groot skoue deel en sy Dorpers word gereeld as grootkampioene en reserwekampioene aangewys.

Die afgelope tyd kry hy sterk mededinging van veral twee maatskappyboerderye wat ook goeie teelmateriaal van Suid-Afrika se voorste Dorper-telers invoer.

Paraguay se skaaptelersvereniging het ’n puntestelsel vir skouprestasies en Brits het die afgelope sewe jaar die prys vir die beste Dorper-teler ingepalm.

Só bewys hy weer eens, in die verre Suid-Amerika, dat Suid-Afrika van die beste boere ter wêreld oplewer.

• Lees in ’n volgende uitgawe van Landbouweekblad oor hoe die Brits-familie in Paraguay aangepas het.

Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
Smalls

Besoek ons geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in Landbouweekblad én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
17.94
+0.1%
Rand - Pond
20.04
-0.5%
Rand - Euro
17.60
+0.0%
Rand - Aus dollar
11.66
+0.0%
Rand - Jen
0.12
-0.0%
Goud
1,669.80
+0.5%
Silwer
19.11
+1.6%
Palladium
2,219.50
+0.6%
Platinum
875.50
+0.9%
Brent-ruolie
88.49
-0.9%
Top-40
57,356
+0.8%
Alle aandele
63,652
+0.6%
Hulpbronne 10
60,719
+1.6%
Industriële 25
77,015
+0.3%
Finansiële 15
13,771
+0.5%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
Enkel man wat op soek is na pasmaat om leemte te vul. te vul
Ek is eerlik en is gelykmatig in persoonlikheid. Hou van lag en sal nooit afbrekend teenoor iemand optree nie. Hou van goeie eerlike gesprekke.
Ek wil weer in liefde glo
Ek is energiek, spontaan, lewenslustig, positiewe uitkyk op die lewe. Hou van buite lewe. Ek is ñ mense mens en is gek oor diere. Ek is saf van geaardheid maar baie ferm in...
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot