Verlede jaar het die Australiese Wagyu-bedryf byna 40 000 ton Wagyu-vleis verkoop. Teen die huidige groeikoers sal daar binne vyf jaar sowat 74 000 ton vleis wees wat bemark moet word.
“Wagyu-beeste maak net sowat 1% van ons totale kudde uit. Dis beslis ’n nismark en sal dalk nooit meer as 10-20% van die kudde wees nie, maar daar is steeds reusegroei wat voorlê. Dit het almal laat regop sit met die vraag: Kan ons dit verkoop? Die antwoord is: Baie beslis!” het mnr. Graham Trustcott, uitvoerende beampte van die Australiese Wagyu-vereniging, op SA Wagyu se jaarvergadering op Stellenbosch gesê.
Plaaslike Wagyu-boere wou dieselfde ding by hom weet – as hulle die peperduur vleis gaan lewer, gaan daar ’n mark daarvoor wees? En weer was sy antwoord: “Beslis.”