
Daar was geen nuwe gevalle van bek-en-klouseer sedert 14 Junie in Noordwes nie en die 13 plekke waar dit wel voorkom, is almal goed omheinde plase en nie in kommunale gebiede nie, sê die provinsiale regering in ’n opvolgverslag oor die uitbrekings.
Volgens dr. Langa Mdyibi, direkteur van veeartsenydienste in Noordwes, is 32 268 diere ingeënt en daar word nou met opvolgdosisse begin. Die voerkraal en van die plase gaan nou die ingeënte diere laat slag by ’n abattoir in die Vrystaat waar al die noodsaaklike biosekerheidsmaatreëls getref is.
Hy sê ’n voorwaarde vir die slag van ingeënte diere is dat die vyfde kwart (kop, kloue en inwendige organe) vernietig of op ’n voorgeskrewe manier verwerk moet word. Karkasse moet ontbeen en die kliere verwyder word.
Mnr. Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die SA Voerkraalvereniging, sê tegniese gesprekke word nog gevoer oor die slag van die diere en die voorskrifte is nog nie gefinaliseer nie.
Mdyibi beklemtoon die doelwit van al die beheermaatreëls is om te verseker dat daar geen diere wat positief toets – hetsy vanweë inentings of deur natuurlike besmetting – in die provinsie oorbly nie, sodat Noordwes weer sy bek-en-klouseervrye status kan herwin.
“Daar was egter ook uitbrekings op Vrystaatse dorpe soos Viljoenskroon en Marquard. Hierdie dorpe het plase waarvan die ekonomiese bedrywighede verbintenisse het met boere in Noordwes. Mense, diere en voertuie het in die tyd van die uitbrekings tussen die onderskeie plase beweeg. Ook plase wat aan die voerkraal voorsien het, het positief getoets en almal is op die oomblik onder kwarantyn.”
Mdyibi sê alle plase in Noordwes waar daar kontak was met enige van die positief getoetste plase in die Vrystaat word as ’n risiko beskou en toetse word uitgevoer terwyl die plase onder kwarantyn gehou word. Sover was daar nog geen positiewe gevalle op enige van hierdie plase nie, maar die inspeksies duur voort. Daar is ook toetse op wilde diere op die onderskeie plase gedoen, maar geen diere het positief getoets nie.
Hy sê daar is gereelde vergaderings tussen die veeartsenydienste van die twee provinsies om beheermaatreëls te kontroleer. “Dit is veral belangrik omdat die plase in die twee provinsies waar die siekte voorkom net deur die Vaalrivier geskei word en daar baie interaksie plaasvind.”
Veilings vind ook steeds plaas, maar biosekerheidsreëls van die landbouprodukte-agenteraad (Apac) word streng toegepas deur biosekerheidbeamptes wat deur die afslaers aangestel is. Die veeartsenydienste werk ook ten nouste met hulle saam, sê Mdyibi.
Volgens hom is daar op 10 Augustus n vergadering met boere om opsies te bespreek oor die hantering van diere wat positief toets. Een opsie is die uitslag van die diere en die staat vergoed die eienaar vir die verskil tussen ’n ontbeende karkas en een wat gewoon op die mark sou kom. ’n Tweede opsie is dat die staat die diere lewend koop en in die beheerde gebied in Limpopo laat slag. ’n Opsie vir stoetbeeste is dat hulle na Limpopo geskuif word waar met hulle geboer word tot hulle skoon is.
Dr. Shaun Morris, ’n veearts wat konsultasiedienste aan voerkrale lewer, sê wat hom betref, is daar eintlik net een opsie, veral vir voerkrale. “Die beeste moet uitgeslag word as jy die siekte wil beheer. Die beeste in die voorkrale is in elk geval daar vir slag, en dit gaan nou net ses weke later gebeur.”