
Mnr. Johann Kotzé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo), het op ’n mediabyeenkoms in Pretoria gesê in die algemeen is die varkbedryf optimisties oor sy toekoms. Produsente sal voortgaan om innoverende maniere te kry om kostedoeltreffendheid te verbeter en volhard om veerkragtigheid aan die dag te lê.
“Ons het ’n verantwoordelikheid om varkvleis volhoubaar te produseer sodat die volgende geslagte ook daarmee kan voortgaan. As jy nie volhoubaar boer en risiko’s bestuur nie, sal jy aan die kortste ent trek.”
Die Suid-Afrikaanse varkbedryf is klein, “maar ons wil invloedryk binne die landbousektor wees. Hoewel almal nie noodwendig liefhebbers van varkboerdery is nie, maak ons iewers langs die pad beleggings, want ons is ’n nasie wat anders dink. Ons moet almal saam aan die landbou werk deur dit op te bou en nie af te breek nie.”
Mnr. Nico Scheltema, hoof van besigheidsinligting, het gesê varkvleispryse was sedert Maart 2022 ses keer dié van die mielieprys. Die gemiddelde markprys van varkvleis het van 2015 tot 2022 met 10% gestyg, maar in reële waarde met 24% gedaal. Dit beklemtoon die laagtepunt waarin produsente hul bevind. Die varkbedryf moet ’n tweeledige strategie volg om vir die verandering in die natuur en omvang van risiko’s in die primêre landbou-omgewing te vergoed.
Een van die gesondste varkbedrywe
Dr. Peter Evans, hoof van verbruikersversekering, het gesê verbruikers moet gerusgestel word dat hulle varkvleis kan vertrou. Daarom doen Savpo gereeld oudits op varkplase. Gedurende 2022 is 59 produsente met 138 boerdery-eenhede en 95 168 sôe besoek.
Dis belangrik om risiko’s te kan hanteer. Suid-Afrika het een van die gesondste varkbedrywe ter wêreld en is onder meer vry van virussiektes. Streng protokolle word vir die invoer van teelmateriaal en varkvleisprodukte gehandhaaf, wat potensieel siektes kan bevat as dit nie doeltreffend behandel is nie.
Die varkbedryf het ’n stelsel van kompartementering sodat siektes in ’n produsente-eenheid of gebied hokgeslaan kan word indien dit uitbreek, sodat die hele bedryf nie hokgeslaan hoef te word nie. Dit gaan hand aan hand met streng biosekerheid.
Evans het gesê Pork 360 is ’n waardevolle bestuursmeganisme en pilaar in volhoubaarheid. Savpo het kragte met PwC gesnoer om ’n kragtige volhoubaarheidsraamwerk te bou, met inagneming van ’n diverse stel betrokkenes en behoeftes om gunstige veranderings op kort termyn aan te bring.
Me. Jolanda Andrag, hoofbydryfsbeampte, het bygevoeg dat hierdie strategie moet bestaan uit ’n portefeulje van voornemens wat op die volhoubare praktyke gegrond is, wat deur die Pork 360-strategie bepaal word.
Me. Kgadi Senyatsi, hoof van sake-ontwikkeling, het gesê hulle bereik toenemend varkboere in die landelike gebiede. Vennootskappe met insetverskaffers verleen verdere impak. Altesaam 69 boere met 2 287 sôe word tans gementor en 147 mentorskapbesoeke is gedurende 2022 gedoen. Veeartse besoek daardie produsente gemiddeld twee keer per jaar.
Haar afdeling ontwikkel die boere se vaardighede deur hulle op te lei in bestuur, bemarking, rekordhouding, teling, varkhuisvesting en -sorg, voeding en siekte- en plaagbestryding.
Mnr. Christian Zimelka, hoof van verbruikersopvoeding, het gesê hulle probeer om die aanvaarde waarde van varkvleis uit te brei deur te konsentreer op innovering by die verkooppunt, die skep van nuwe markte vir varkvleis en om mense onder die besef van varkvleis se eienskappe en waarde as voedsel te bring. “Ons wil die verbruiker laat besef varkvleis is bekostigbaar, bied waarde vir geld, en is voedsaam, veelsydig en smaaklik.
“Ons moet varkvleis weer die held maak.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.