Ek wil oor iets praat waaroor ek ’n bietjie bekommerd is. Dit is dat ons heelwat boere het wat spogdiere teel, en dan twyfel of hulle dié diere moet laat gaan. Ek verstaan dit het harde werk gekos om die dier daar te kry. Dan het ’n mens nog geheg geraak aan die dier.
Ek was eenkeer op Nampo en het met ’n vrou gesels oor haar bokram wat al drie keer ’n pryswenner was. Daar kom toe ’n man van die kant af en bied haar R1,5 miljoen vir die ram aan. Sy het vir die man gesê sy wil eers daaroor dink. Sy wou by my weet wat ek sou doen.
Ek het gesê vat die geld, maar hoor eers hoe lank dit gaan wees voor hy die ram kom haal. Intussen kan jy mos van die ram se saad tap en bewaar. Tot julle die papiere onderteken het, is hy mos nog joune.