Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging spreek die waardering van die veterinêre professie uit vir die belangrike bydraes wat dr. Jan de Wet (BO) gelewer het.
As nuweling-staatsveearts in sy geboortedistrik, Calvinia, het hy reeds sy slag gewys om die skaapsiektes in sy area op ’n wetenskaplike en professionele, dog praktiese, manier te benader en suksesvol op te los, en het derhalwe die waardering en respek van die boeregemeenskap ontvang.
Nadat hy tot hoof van die Bloemfonteinse streeksveterinêre laboratorium bevorder en verplaas is, het hy sy waardevolle dienste voortgesit. Afgesien van diagnostiese dienste vir ’n verskeidenheid veesiektes het hy ook ondersoek ingestel na ’n reeks voorheen onbekende siektes.