Gerrit van Zyl se rubriek “By ’n kruispad” (LBW, 24 Februarie 2022) het betrekking. Dit is uiters relevant en tydig. Ja, die veebedryf is inderdaad by 'n kruispad. Insetkoste bly net styg en die boer verdien gedurig minder en minder van die prys wat die eindverbuiker vir sy produk betaal.
Dit wil voorkom of die klimaat ook nie aan die boer (mensdom) se kant is nie. Of jy nou in klimaatsverandering glo of nie, elke landboubesigheid kan daarby baat vind om “klimaatsveerkragtiger” te wees, dit wil sê om droogte- en vloedtoestande beter te kan deurstaan.
Die enigste vraag is: Wat kan boere doen? Dit is hier waar herlewingslandbou inkom. Maar hoe? Om Gerrit aan te haal: “In kort verbeter jy die moontlikheid om elke druppel kosbare water (reën) en elke kosbare sonstraal (deur middel van fotosintese) effektief te oes.”