
Navorsing word tans gedoen om feite op die tafel te plaas wanneer ’n besluit op ’n moontlike verbod van invoer van leeutrofees in Amerika geneem moet word. Dit volg nadat vyf nie-winsgewende organisasies versoekskrifte in die verband aan die Amerikaanse vis-en-wilddienste gerig het.
Me. Adri Kitshoff, hoof van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PJSA), sê luidens ’n berig in die Volksblad dat die organisasies se argumente op emosies, en nie op feite nie, gebaseer is. “Daarom word navorsing nou gedoen om feite op die tafel te sit sodat ’n ingeligte besluit in Januarie geneem kan word.”
Bewaar spesie
Die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn, een van die vyf organisasies, vra hoe dié diere nog vir genot doodgemaak kan word terwyl hulle die gevaar loop om in ons leeftyd nog uit te sterf. Hulle meen dit is Amerika se verantwoordelikheid om die ikoniese dier te help bewaar.
Die beleid sal egter nie leeus in die algemeen in Afrika bewaar nie, sê prof. H.O. de Waal van die departement vee-, wild- en weidingskunde aan die Universiteit van die Vrystaat en van die Afrika-grootroofdiernavorsingseenheid (Alpru). Volgens hom is krimpende leeu-habitat die grootste bedreiging vir wilde leeus.
Sowat 60% van leeus wat in Afrika gejag word, word volgens mediaberigte na Amerika uitgevoer. Ander kenners meen dat so ’n verbod dié handel ondergronds sal dryf.