Dit verg mannemoed om ’n hoenderboerdery se bestuur sonder ervaring oor te neem. Vandag, ná 20 jaar ervaring en met deurlopende omsetgroei van 50% tot knap duskant 70% jaarliks, sal mnr. Herman du Preez (38), eienaar van Frangipani-boerdery op die plaas Gruisfontein by Lichtenburg, dit nie anders wou hê nie.
Du Preez is as Noordwes se Jongboer van die Jaar aangewys en een van die aanspraakmakers op die nasionale kroon. As jongeling het hy sy gewig by die familieboerdery gaan ingooi, en met harde werk en die wil om by sy pa en ander kenners te leer, het hy spoedig die leisels vasgevat.
Vandag is die braaihoender-afdeling die grootste vertakking van sy gemengde boerdery. Afgesien van die braaihoenders, wat vir 53% van die omset sorg, woeker hy met mielies op 550 ha (32% van die omset), beeste bestaande uit ’n Simmentaler-stoetery en kommersiële Bonsmara-tipe vleisbeeste (15%) en 80 stuks wild in ’n beginstadium.