Die droogte het groot skade aan boerderye in die veldweistreke aangerig. Noudat dit weer begin reën het, is daar hoop dat boere stelsels en praktyke wat goed vir die veld en die vee is, in werking kan stel. Sulke stelsels en praktyke kan boerderye ook veerkragtiger maak in ongunstige toestande.
Boere wat voor die droogte funk- sionerende kamp- en weibestuurstelsels gebruik het, sê immers die droogte het hulle eers later begin vang. In die verlede het landbouvoorligters boere gehelp om hul plase te beplan en weibestuurstelsels uit te werk, maar deesdae moet boere dit self doen.
Daar is egter hulp. Mnr. Charl du Plessis, ’n boer van Sutherland en die Tankwa-Karoo wat voorheen ’n voorligtingstegnikus by die departement van landbou was, sê kennis van die veld en die topografie van die plaas, asook volgehoue waarneming van die vee en die veld is van die eerste stappe in die opstel van ’n weibestuursplan.