
Dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-gifinligtingssentrum en ook bedryfsbestuurder van CropLife SA, sê die nagmuise kom in groot getalle voor in die hele Vrystaat, die Oostelike Hoëveld, dele van Noordwes, asook in die Swartland in die Wes-Kaap. Die grootste skade word ná die plantstadium aangerig wanneer die nagmuise die ontkiemende saad en nuwe saailinge vreet.
Mnr. Janes Barnard, ’n boer van Hoopstad en mede-organiseerder van die gespreksgroep Basis-Diff, sê in sy distrik was dit baie erg. “Daar is boere wat tot 300 ha moes oorplant. Ons het self ook baie skade gehad, veral op ’n deel waar dit baie nat was. Die probleem raak elke jaar ál ernstiger. Saadmaatskappye sal moet begin toetree tot die probleem om oplossings met saadbehandeling te vind.”
Mnr. Pikkie Labuschagne, ook van Hoopstad, sê die nagmuise kom in groot getalle in veral die sandgrond voor. “In mielie- en sonneblomlande waar stoppelbewerking gedoen word, is dit veral ’n probleem. In die geploegde lande waar ons grondbone plant is hulle minder.”
In die omgewing van Ficksburg en Clocolan is dit ook al vir die afgelope vier jaar of meer ’n probleem. Mnr. Friedl von Maltitz, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou by Ficksburg, sê veral die produsente wat minimum bewerking toepas het ’n probleem. “Ons begrawe dromme water met saad bo-op sodat hulle kan versuip, maar ons verloor eintlik die stryd. Selfs in gevalle waar boere landerye geploeg het, verdwyn die muise nie. Hulle is uitgeslape en trek net in die veld langsaan of die kontoerwalle in en wag vir jou om weer te plant.”
Mnr. Marthin de Kock, die organisasie se streekverteenwoordiger in Zastron in die Suid-Vrystaat, sê die probleem met springhaasrotte het die afgelope twee tot drie jaar ook by hulle drasties toegeneem. “Ons is eintlik ’n veegebied met min gesaaides en het dit glad nie geken nie. Nou is daar boere wat nie meer wil plant nie weens die merkbare skade wat hulle ly. Die skade kom veral op die sandgrond voor.”
Mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, sê hulle het ook verneem van groot skade wat die nagmuise in planttyd in veral die Noordwes-Vrystaat aanrig, maar dit is moeilik om die presiese omvang daarvan te bepaal.
Vir die bestryding daarvan raai Verdoorn boere aan om die riglyne te volg in die geïntegreerde bestuursprogram vir die bekamping van nagmuise (en ander knaagdiere) waarin die invloed op die omgewing ook in ag geneem word. Die bestuursprogramdokument, wat by Griffon asook CropLife SA beskikbaar is, maak voorsiening vir ’n geïntegreerde benadering wat nie net plaagdoders behels nie, maar ook die vestiging van uile en ander roofvoëls om die knaagdiere se getalle te beheer, gewasrotasie, meganiese vanghokke en die vernietiging van die muise se habitat deur grondbewerking.
Indien plaagdoders wel gebruik word, moet slegs geregistreerde middels in lokaashouers in die muise se gate geplaas word sodat dit nie ander diere of voëls skade berokken nie.
Die doeltreffendste tyd om hulle te bestry is in die winter voor planttyd wanneer die knaagdiere op hul kwesbaarste is. Bestryding in die tyd wanneer die skade reeds aangerig is, is te laat.
Luidens die bestuursprogramdokument neem die nagmuisbevolkings drasties toe in die tydperk wanneer die saad ontkiem omdat daar vir hulle voedsel in oorvloed is. Groot kolonies kan binne weke ontstaan en tot soveel as 30% skade in groot landerye en tot 100% skade in klein landerye met kontantgewasse aanrig.