Menige landboubedryf in Suider-Afrika, soos die wol-, wyn-, vrugte-, toerisme- en trofeejagbedryf, is georganiseerd genoeg om buitelandse inkomste te kan verdien. Nou wil Namibiese veeboere dit óók doen. ’n Groep leierboere werk nou volstoom aan ’n projek om dit te verseker.
Dit sal veral vir die landelike gebiede waar só baie veeboere woon van onskatbare waarde wees, sê mnr. Mecki Schneider, boer van Grootfontein en voorsitter van die taakspan wat onder die naam Beef Value Chain Forum aan die projek werk.
Mecki is ’n vorige voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en het in die uitvoerende raad van die Namibiese Landbou-unie (NLU) gedien.