
Luidens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se jongste verklaring oor die stand van sake wat op 5 Augustus uitgereik is, is sewe nuwe aktiewe gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat bevestig, naamlik een in die Moqhaka- en ses in die Setsoto-munisipaliteit. Dit bring die totale getal aktiewe gevalle in die provinsie op 14 te staan.
’n Inentingsveldtog is sedert einde Julie in die Vrystaat van stapel gestuur en tot dusver is 25 759 beeste teen bek-en-klouseer ingeënt. Die plaas waar die aanvanklike geval van bek-en-klouseer bevestig is, is steeds onder kwarantyn.
Een nuwe geval is in die Tshwane-munisipaliteit in Gauteng bevestig, en een in die Victor Khanye-munisipaliteit in Mpumalanga. Die oorsprong van hierdie uitbrekings word ondersoek. Albei die persele waar die uitbrekings bevestig is, is omhein en onder kwarantyn.
Geen bykomende gevalle is in KwaZulu-Natal en Limpopo aangemeld nie. Daar is tans 73 aktiewe gevalle in KwaZulu-Natal en sewe in Limpopo.
Beperkings bly van krag op die beweging van diere met gesplete kloue, hul produkte en genetiese materiaal binne en uit die provinsies se siektebeheergebiede. Vaste padblokkades in Limpopo is vervang met padblokkades wat rondbeweeg namate inligting oor die moontlike beweging van diere ontvang word.Daar is tans 14 aktiewe gevalle in Noordwes. Meer as 32 000 beeste is tot dusver teen die siekte ingeënt.
Intussen berig Agriforum dat Namibië se grens vir die invoer van diere met gesplete kloue, asook hul produkte vanuit Suid-Afrika gesluit is ten einde Namibië se bek-en-klouseervrye status te beskerm. Alle voertuie sal by die onderskeie grensposte deursoek word.