
Woordvoerders in die wolbedryf met wie Landbouweekblad oor die bedryf se vooruitsigte gepraat het, sien die blink kant raak. Produksie is besig om toe te neem en die gehalte van die skeersel wat tot einde Desember gelewer is, laat die wolhandel breed glimlag.
Mnr. Paul Lynch, mede-eienaar van Standard Wool, die grootste uitvoerder van Suid-Afrikaanse wol, sê met die markaanwyser wat gedurende die laaste paar veilings konstant bo die R100 per kilogram skoonwol gebly het, is hy vol vertroue dat dié vlak gehandhaaf sal word.
Die rigting waarin die rand ná Mangaung en moontlike verdere arbeidsonrus sal beweeg, kan egter die mark beïnvloed. Sou die rand verswak, kan dit wolpryse verder aanhelp. Die teenoorgestelde geld egter ook. Lynch sê die hernieude belangstelling uit China is bemoedigend. Dit wil ook voorkom of die spinners meer navrae van die handel kry en bereid is om nou meer vir wol te betaal.
As dít gebeur, wentel dit beter pryse na boere af. “Enige wolboer wat meen R100 per kilogram skoonwol is nie ’n goeie prys nie, behoort nie met wolskape te boer nie.”
Produksie vir die seisoen
Hy skat dat produksie vir die seisoen met minstens 5% sal styg. “Ek weet van een Karooboer wat met dieselfde hoeveelheid skape vanjaar 10% meer wol geskeer het. Die goeie reën en beter weidingstoestande het meegehelp dat die wol langer én skoner is.”
Mnr. Harry Prinsloo, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) voel dieselfde. Die probleme wat vroeg in die seisoen met die beskikbaarheid van skeerders uit Lesotho ervaar is, kon oorkom word. “Ons is baie opgewonde oor die eerste helfte van die seisoen. Dié optimisme is ook tydens die IWTO (Internasionale Woltekstielorganisasie) se samesprekings in Kaapstad aan die einde van verlede jaar geëggo.”
Prinsloo benadruk dat hoewel hoë brandstofpryse, kragvoorsiening en duurder lone ook wolboere onder druk plaas, is dié bedryf in ’n minder mate as vele ander bedrywe daaraan uitgelewer. “Ná die OIE (die internasionale dieregesondheidsorganisasie) se besoek aan die land en die verslag wat hy uitgebring het, is ons ook meer op ons gemak oor die hantering van die veeartseny-situasie in die land.
"Ons is hoopvol dat die verbod op die uitvoer van diereprodukte weens die voorkoms van bek-en-klouseer dalk teen Mei opgehef sal kan word. Gunstige gesprekke oor die voorkoms van Johné se siekte is ook met die Departement van Landbou gevoer.
Vleispryse stel teleur
Prinsloo is teleurgesteld dat skaapvleispryse aan die einde van verlede jaar skerp gedaal het.
“Dit is die ander belangrike been van ’n wolboer se inkomste. Met die goeie lammeroeste vanjaar hoop ons dat wanneer hulle markgereed is, speenlammers se prys weer sal kop optel.” Me. Ona Viljoen, woordvoerder van Cape Wools, sê Suid-Afrikaanse wolpryse het ondanks die moeilike ekonomiese klimaat in die meeste sleutellande op ’n gesonde vlak gebly.
Die mark het op die laaste veiling voor die Kersreses die hoogte in geskiet toe Cape Wools se Merino-aanwyser met 7% gestyg het om op R109,91/kg (skoonwol) te sluit. Dit was nie net 4,5% hoër as die vorige seisoen se hoogste vlak nie, maar is ook 25,8% bokant die openingsveiling en bykans 12% hoër as op die ooreenstemmende veiling verlede seisoen.
Viljoen sê hoewel die swak rand die mark in die eerste helfte van die seisoen ondersteun het, was daar ook ’n goeie vraag, veral uit China waar die voorraad vetwol feitlik uitgeput was en verwerkers hul voorraad moes aanvul. Dit geld ook vir Europa, waar die voorraad wol in die tekstiel-ketting feitlik uitgeput was.
Gevolglik is ’n hoë verkooppersentasie van 98% op veilings behaal. Viljoen meen vrese vir ’n woltekort in die wêreld het gehelp om die mark te stut. “Die wêreld se wolaanbod sal volgens die jongste vooruitskatting met net sowat 1% toeneem. Dit is steeds die laagste vlak in 70 jaar.”