Dit was die mening van mnr. Dewald Olivier, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, op Agri Gauteng se kongres wat in Cullinan gehou is.
“Ons sit tans in ’n uiters ongunstige situasie. Die staat hét die geleentheid gehad om die situasie in Maart te beredder. As dit gebeur het, sou ons nie tans in die penarie gewees het waar ’n verbod op die vervoer van grootvee ingestel is nie.”
Hy het gesê die situasie beïnvloed die lewensbestaan van boere en dat dit grootliks toegeskryf kan word aan ’n staat wat nie betyds opgetree het nie. “Van staatskant af word natuurlik gesê boere het hul diere verskuif en sodoende die siekte versprei, maar van die bedryfskant af sê ons weer dit is die staat se verantwoordelikheid om te verseker dat, wanneer ons bel en sê hier is ’n vrag beeste van Vhembe af op pad na Bela-Bela en dit moet voorgekeer word, moet dit gebeur. Die polisie moet die vrag nie toelaat om verder te beweeg nie.”