Deur saailande in 'n minder goeie saaigebied na permanente, aangeplante weiding om te skakel, het 'n veeboer sy plaas se drakrag en sy diere se vrugbaarheid en herbesetting aansienlik verhoog.
Ná 26 jaar van geleidelike omskakeling van saailande na permanente, aangeplante weiding, het 'n veeboer van Whispering Willows, Arlington, mnr. Llewellyn Angus, nou al 1 800 ha van sy 2 000 ha onder weidinggewasse. Die meeste word, soos sy veldweiding, volgens 'n aangepaste Ermelo-stelsel bestuur.
Dit behels die verdeling van sy weiding in drie gelyke dele, wat een jaar met beeste en skape bewei word, die volgende jaar net met beeste en die volle derde jaar rus sodat dit ten volle kan herstel.
Sy ou lande bestaan tans uit 800 ha Smutsvingergras waarvan 50 ha bemes en die res soos natuurlike veld behandel word. Daarby is daar ook 800 ha wat beplant is met 'n mengsel van Smutsvingergras en lusern asook 200 ha Eragrostis, waarvan 50 ha goed bemes en gebaal word. Smutsvingergras of 'n Smutsvinger-lusernmengsel sal binne die volgende jaar op die laaste 200 ha geplant word.
Angus volg vasgestelde riglyne met die plant van die verskillende weidingsgewasse. Smutsvingergras word van Oktober tot einde Februarie in 1,5 m-rye gevestig met die trekkerwielmetode. Sowat 2 kg saad/ha word tussen die voor- en agterwiel gestort en deur die agterwiel vasgetrap word. As net Smutsvinger geplant word, wissel hy dit op sommige lande met 'n ry slik af sodat rye 0,75 m uitmekaar is.
Omdat die lande se fosforstatus deur die jare opgebou word, dien hy geen bemesting toe nie. Ná drie tot vier jaar gaan die slik agteruit en die Smutsvingergras bedek byna die hele oppervlakte. Hy laat die lande die eerste keer bewei wanneer die Smutsvingergras saad gestort het. Dit is belangrik om nuwe weiding die eerste twee tot drie jaar net met beeste te bewei sodat die nuwe Smutsvinger-saailinge kan vestig.
Die slik verseker 'n goeie volume weiding in die eerste sowat drie jaar totdat die Smutsvingergras gevestig is. Soms is 'n bespuiting met 'n onkruiddoder nodig sodra die twee gewasse sekondêre wortels maak om onkruid te bestry.
In sommige gevalle word die Smutsvingergras alleen in 1,5 m-rye gesaai. Dit duur ook sowat drie jaar om die land toe te maak, maar daar is nie dieselfde hoeveelheid kos beskikbaar in dié tydperk nie.
Die Smutsvinger-weiding word in die somer en winter volgens die Ermelo-stelsel benut. Drie groepe kampe val saam met drie veldgroepe. In die winter kan dit heeltemal afgevreet word. Om staande hooi te hê, word die vee einde Januarie, begin Februarie onttrek. Oortollige gras word gebaal, maar dit duur langer om te droog as Eragrostis.
Angus hef die verdigting van die ou lande met Smutsvingergras elke vyf tot ses jaar op met 'n skeurploeg-bewerking in 1,5 m-rye sowat 150 mm diep. Naas die opheffing van verdigting help dit met die vestiging van die gras. Van die Smutsvingerlande is al 24 jaar oud.
Die drakrag van onbemeste Smutsvingerlande is sowat 2 ha/GVE tot 3 ha/GVE. Waar die land bemes word, is die drakrag sowat 1 ha/GVE of selfs meer in goeie jare. Die 50 ha wat bemes word, word benut deur jong bulle, verse ná speen en veilingsbulle (2 jaar oud) af te rond. Die voordeel van Smutsvingergras bo Eragrostis is dat dit in die winter goed as staande hooi benut kan word.
Op die lande met die lusern-Smutsvinger-mengsels word die lusern in Maart en April in 1,5 m-rye teen 6 kg/ha met die trekkerwielmetode of met die gifbakkies van 'n mielieplanter geplant. Die pH van die grond moet minstens 5 KCl wees en die fosforstatus minstens 20 (Bray), anders gaan die Smutsvingergras se produksie en lewensduur daaronder ly. As die fosforstatus reg is, is geen kunsmis met planttyd nodig nie. Hy gebruik net SA Standaard-saad omdat die groeipunte laag gedra word.
Deur die winter hou Angus die grond tussen die lusernrye skoon sodat die Smutsvingergras in Oktober en November in die alternatiewe rye gevestig kan word. Die omgekeerde kan ook gedoen word deur die Smutsvingergras eerste te vestig en die lusern in die alternatiewe rye. Daarna word die weiding eers bewei sodra die laaste gewas in volle blom is. Enige onkruid kan met 'n swaailem-werktuig afgesny word.
Die lusern word hoofsaaklik in die somer bewei - eerste met Merino-tipe skape en, nadat die grootste ontblaring plaasgevind het, met beeste. In die winter word hoofsaaklik die graskomponent van die land benut omdat die lusern dan rus.
Angus sê sy ervaring is dat die lusern op die gemengde lande 'n langer leeftyd het. Waar lusern voorheen alleen op 'n land gesaai is, het die gewas ná sowat agt jaar wortelvrot gekry en grasonkruid het opgekom hoewel die lande gereeld geskoffel is.
Op die lande waar die lusern en Smutsvinger afgewissel word, het die lusern tot 15 jaar gehou. Hy skryf dit daaraan toe dat die gras in die alternatiewe rye se wortels die verspreiding van wortelvrot bekamp. Dit is dus voordeliger om 'n goeie gras te vestig voordat 'n onkruidgras die lusern inneem.
Hy sê die lusern stel ook stikstof aan die Smutsvingergras beskikbaar. Dit kan gesien word aan die hoër produksie van die gras en die groener kleur vergeleke met die lande waar net Smutsvingergras geplant is.
Die mengsel kan veilig en volledig benut word met Merino-tipe skape en beeste. Dit kan ook met beeste alleen bewei word, maar dit hang van die hoeveelheid lusern in die mengsel af. Hoe laer die persentasie lusern is, hoe veiliger is dit vir beeste wanneer skape dit nie vooraf bewei het nie.
Die drakrag van die weiding is tot 1 ha/GVE vir jong, gevestigde lande en sowat 1,5 ha/GVE vir die ouer lande. Waar die lusern naderhand verdwyn, is die drakrag sowat 2 ha/GVE. Die weiding in oortollige kampe kan gesny en gebaal word vir voer, maar dit duur taamlik lank om droog te word en moet dus nie te nat gebaal word nie.
Eragrostis word in gelyke dele met tefsaad gemeng en breedwerpig gesaai teen 8 kg van die mengsel per hektaar. Die weiding op die 50 ha wat bemes word, word gebaal. Die onbemeste Eragrostis word straf bewei. Omdat dit inherent 'n suur, sterk gras is, kan dit oorbeweiding hanteer. Hy verkies die Ermelotipe Eragrostis.
Dit is noodsaaklik dat dit kort gehou word om te keer dat ou polle met dooie materiaal vorm. As dit gebeur, moet dit afgesny of afgebrand word om van die oortollige materiaal ontslae te raak.
In Angus se omgewing is Eragrostis veral waardevol vroeg in die lente (wanneer geen ander weiding beskikbaar is nie), in die herfs en in droë somers - veral omdat dit gehard is en gou teruggroei ná strawwe beweiding. Vir 'n volledige voervloeiprogram is Eragrostis tesame met die ander weidingsgewasse noodsaaklik.
Onbemeste Eragrostis se drakrag is sowat 2 ha/GVE. Die Ermelo-stelsel van benutting word nie met die Eragrostis gevolg nie. "Ek straf dit maar gereeld soos wat 'n mens nie met veld moet maak nie."
Angus het sowat 50 ha armmanslusern (Sericea lespedeza). Hy plant die gewas in die somer volgens die trekkerwiel-metode in rye van 1,5 m teen sowat 3,5 kg/ha. Hy wissel dit met alternatiewe rye Smutsvingergras af. lespedeza word veral in die laat winter en vroeë lente geredelik gevreet. Dit loop dan uit wanneer nog nie veel ander groen materiaal beskikbaar is nie.
Dit laat nie diere opblaas nie. Wanneer ander gewasse, soos Smutsvingergas, of gras op wenakkers in die somer beskikbaar is, vreet die diere nie graag daaraan nie. Sy ervaring is dat dit miskien beter sal wees om dit nie met ander gewasse te meng nie, maar alleen op 'n land te vestig sodat veral grootvee gedwing word om dit te vreet. Skape vreet dit meer geredelik in sy toestande. Die mengsel werk goed as die Lespedeza kort gehou word.
Vir Angus is die grootste voordeel dat die grond taamlik suur kan wees met 'n lae fosforstatus en die vroeë wegspring in die lente. Dit hou egter in die herfs gouer op groei as lusern. Dit behou blare langer as lusern, maar dit is nie so smaaklik nie. Dit maak gebaalde voer van 'n hoë gehalte wat in die winter benut kan word.
Sy metode van veld- en aangeplante weiding wat volgens 'n spesifieke stelsel benut word, hou dus vir Angus baie voordele in.
Hy vat sy voervloeiprogram só saam: "Met my veld volgens die Ermelo-stelsel en die aangeplante weidings, saam met die bietjie voer wat gemaak word, is my voervloei só dat ek dwarsdeur die jaar genoeg en ekstra voer het. Die geheim is om wanneer die diere die hardste werk, voer van die hoogste gehalte en die heel beste weiding beskikbaar te hê." Staande hooi is 'n integrale deel van die voervloeiprogram en kan ook as deel van die voerbank beskou word.
18 Augustus 2006