Veeboere moet wetenskaplike seleksie- en teeltmetodes toepas as hulle na genetiese vordering in hul veekudde streef, maar as hulle nalaat om die algemene beginsels toe te pas, kan dit tot ’n kreeftegang of agteruitgang en uiteindelik tot hul ondergang lei.
Op ’n boeredag van die Schneider-familie op hul plaas Okamutombe buite Grootfontein het lesings op wetenskaplike metodes gekonsentreer, maar daar was ook aanbiedinge deurspek met praktiese wenke vir die groot getal boere wat die geleentheid bygewoon het.
Die familie boer met stoet- en kommersiële beeste en besit die Okabra Brahman- en Okasim Simmentaler-stoetery. Dié praktiese beginsels spruit uit ’n artikel oor die wetenskap van beesboerdery in ’n vorige uitgawe (“Snelle vrugbaarheid volgens die Schneider-patroon”, LBW, 18 Augustus 2022).