
Die voorkoms van rooiwater en bloutong was uitermate hoog in Maart en veeboere moet planne beraam om voorkomingsmaatreëls te tref, sê dr. Faffa Malan.
Malan, wat ook die sameroeper van van die Veegesondheid en Produksiegroep van die SA Veterinêre Vereniging is, het die meegaande verslae vir Maart 2013 bekend gemaak.
Malan sê talle verslae oor die voorkoms van haarwurmbesmettings is in Maart uit die somerreëngebiede aangemeld. “Aangesien dié parasiete weerstandig is teen meeste middels wat daarteen ingespuit word, is dit belangrik dat boere met hul veeartse gesels om die beste metode te vind om dié parasiete te bestry en hoe om ’n geïntegreerde beheerprogram op te stel,” sê hy.
Die meegaande verslae bevat nuttige inligting oor die voorkoms van veesiektes oor die hele Suid-Afrika, wat deur veeartse by die vereniging aangemeld word. Die een dokument is ‘n verslag van 67 bladsye oor die veesiektes wat in elke distrik voorgekom het. Dit kan vir boere ’n voordelige hulpmiddel wees.
Die aangehegte PDF-dokument is op sigself ‘n netjiese samevatting van die siektes, en dit word op 13 kaarte uitgebeeld. Dis hoogs bruikbare inligting vir boere.
Lees ook die verslag vir Februarie.