Om twee keer verskuif te word, vier jaar se erge droogte te weerstaan en ’n uitsonderlike tussenkalfperiode (TKP) van 395 dae te handhaaf, getuig van die diepte van die stamboom van die Namibiese Bonsmara-wenner van die gesogte Elite-koei-kroon.
Schumacher-Bonsmaras is gesetel op die plaas Eenzaamheid by Seeis in die distrik Khomas in Namibië. Nadat mnre. Nico Visser en Marc Schumacher 26 verse by mnr. Erni de Fries van Ondoka-Bonsmaras gekoop het, het hulle nog nie aan die minimum koeikudde van 30 vroulike diere voldoen nie.
Dit het hulle gedwing om mnr. Arthur de Villiers van AG-Bonsmaras by Vrede te vra om te help, waarna hulle verse by hom en mnre. Gert en Gerhard Nel van Germar-Bonsmaras, Frikkie Kruger van Kruger-Bonsmaras, Chris Visser en Blikkies Venter van Skatkis-Bonsmaras, en Johan en Gert Olivier van Bonka-Bonsmaras bekom het.