
Daar bestaan ’n persepsie dat net beeste wat op die veld grootgemaak is, ‘omgewingsvriendelik’ is. Die waarheid is dat enige beesproduksiestelsel volhoubaar kan wees, mits dit omgewingsverantwoordelik, sosiaal aanvaarbaar en winsgewend is.
Dit is die mening van dr. Judith Capper van die Universiteit van Washington in Amerika. Sy het in Kaapstad deelgeneem aan Chalmar Beef se debat oor die omgewingsimplikasies van beesproduksie.
Capper het daarop gewys dat beesvleisproduksie in Amerika al hoe doeltreffender raak: In 1977 het ’n tipiese bees 280 kg vleis geproduseer. Vandag produseer die gemiddelde bees sowat 350 kg vleis. Die implikasie is dat jy minder grond, water, voer en kunsmis nodig het en dat die hoeveelheid mis en besoedeling wat jy met produksie veroorsaak, aansienlik minder is as in daardie tyd. “As hierdie prestasies in die motor- of rekenaarbedryf behaal is, sou die hele wêreld daarvan geweet het. Ongelukkig is die beesvleisbedryf baie swak daarmee om sulke inligting aan die groot klok te hang,” het Capper gesê.
Min ruimte vir verbeterde vleisproduksie
Daar is nie meer baie ruimte oor om vleisproduksie per bees te verbeter nie, maar verdere verbeteringe kan gemaak word deur beeste vinniger markgereed te kry met die hulp van moderne tegnologie, soos groeistimulante.
Om hierdie tegnologie uit te skakel en alle beeste op die veld groot te maak of ‘natuurlik’ te produseer, soos wat die groenes wil hê, sal egter slegter vir die omgewing wees as die konvensionele stelsel waarin beeste op die veld grootgemaak en dan ná sewe of twaalf maande in ’n voerkraal afgerond word, reken Capper.
In Amerika word amper 95% van alle beeste op die konvensionele manier geproduseer. Dit duur sowat 444 dae om ’n bees met ’n karkasgewig van 364 kg te produseer. In teenstelling daarmee neem dit 464 dae om beeste met ’n gemiddelde karkasgewig van 340 kg te produseer in ’n natuurlike stelsel en 679 dae om ’n bees met ’n karkasgewig van 279 kg op die veld groot te maak.
As van konvensionele produksie na die produksie van beeste op die veld oorgeskakel word, sal die gebied onder produksie met 53 miljoen hektaar vergroot moet word. Dit is omdat beeste in ’n konvensionele stelsel se rantsoen meer energie bevat as dié van diere wat op die veld geproduseer word.
Verder sal veldproduksie die vrystelling van koolstofdioksied met 134,5 miljoen ton vermeerder en waterverbruik sal met 1 771 miljoen liter toeneem, gelykstaande aan die verbruik van 53,1 miljoen huishoudings in Amerika.
“Dit beteken nie dat daar geen plek vir ‘natuurlike’ of die grootmaak van beeste op die veld is nie, maar dat mense hulle nie moet blind staar teen emosionele redenasies wat nie noodwendig doeltreffend is nie. Elke situasie is uniek en boere moet produksiestelsels kies wat diegeskikste is vir hul produksiegebied,” het Capper gesê.