
Die produksie van Wagyu-vleis het die afgelope jaar met 90% toegeneem en 1 303 ton vleis is geproduseer, waarvan 60% uitgevoer is, die meeste na Oosterse lande.
Mnr. Johan de Vos, voorsitter van die Wagyu-telersgenootskap van Suid-Afrika, wat ook telers van Namibië insluit, sê gedurende 2021 is metings vir marmering op 3 667 karkasse gedoen. Die karkasse het gemiddeld 461 kg geweeg. In 2019 is 385 karkasse geskandeer en in 2020 altesaam 1 799 karkasse. Gedurende Januarie vanjaar is 469 karkasse geskandeer.
Daar is nou 147 geregistreerde Wagyu-telers in Suid-Afrika en Namibië, met altesaam 10 655 vroulike diere ouer as 18 maande en 1 936 geregistreerde stoetbulle.
Die genootskap bied op 25 Februarie sy derde nasionale elite-veiling van die beste teelmateriaal (diere, semen en embrio’s) in die Afridome op Parys aan, waar telers self kan koop of aanlyn kan deelneem.
Dit word voorafgegaan deur ’n konferensie op 25 Februarie waar telers na lesings kan luister, onder meer oor die ekonomie van die Wagyu-bedryf, waarna die veiling volg. ’n Inspeksiekursus word op 24 Februarie aangebied. Hulle kan ook na ’n demonstrasie kyk van ’n blokman wat gaan wys hoe ’n voorkwart tot sy volle potensiaal benut kan word. Mense kan ook aanlyn inskakel om inligting te bekom en vrae te vra.
“Suid-Afrika se Wagyu-teelmateriaal staan nie terug vir die res van die wêreld nie. Telers het ’n behoefte aan topteelmateriaal en verstaan dat dit ’n direkte impak op die gehalte van die produk het wat hulle lewer, en sodoende ook die rand per kilogram wat hulle op die mark realiseer,” sê De Vos.
“Aangesien dit ons eerste veiling sedert 2019 en die uitbreek van die koronavirus is, wil ons telers die geleentheid gee om die beste beleggingsbesluite te neem as hulle in Wagyu belê. Dit ondersteun die strewe om ’n premieproduk te produseer wat vleis en lewende hawe betref.”
Navrae: Charmaine, 082 922 3747, palberts@telkomsa.net.