Te veel mense soek na ’n towerresep om hul boerdery te vereenvoudig. Jy is immers nie besig om ’n koek te bak waarvoor jy ’n resep benodig nie. Baie dikwels is sulke resepte in boerdery eerder ’n resep vir rampspoed.
Boerdery is ’n biologiese proses met baie ekonomiese en biologiese veranderlikes. Elke plaas is anders en elke boer se vermoëns en finansiële behoeftes verskil.
Dit is onmoontlik om een resep te hê wat almal pas. Koekbak vereis ’n resep omdat almal dieselfde eindproduk wil hê; boerdery nie. Rekenaarmodelle het deesdae baie gewild geword. Dit kan nuttig wees en daar is ’n plek daarvoor in die landbou. Een nadeel van ’n rekenaar is egter dat dit nie kan dink nie.