
Daar is wêreldwyd ’n groeiende vraag na plantgebaseerde produkte, wat die rooivleisbedryf nie kan ignoreer nie.
“Ek het oorsee gesien hoe mense toustaan om dit te proe,” het mnr. Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, gesê by die bekendstelling van nuwe produkte deur Envarto en Chr. Hansen by Centurion.
“Ons moet rooivleis bevorder deur vir ons verbruikers te wys dat ons vir die omgewing omgee en dat ons produkte voedsaam en veilig is deur naspeurbaarheid toe te pas. Selfregulering is dus vir elke boerdery belangrik,” het hy gesê.
Dit gaan vir die landbou en dus die voerkraalbedryf oor volhoubaarheid en die wyse waarop mense produseer en hul koolstofspoor verklein, wat ’n groot uitwerking op die omgewing het en ook die toekoms raak.
Volhoubaarheid speel saam met hoë gehalte ’n sleutelrol om veilige voedsel vir die mensdom te produseer, “anders is ons in die moeilikheid”.
Maatskaplike volhoubaarheid is net so belangrik. Die kommersiële landbousektor moet inklusief groei sodat kleiner boere ook kan voordeel trek.
In volhoubaarheid is voedselsekerheid een van die belangrikste doelwitte. Die rooivleisbedryf moet ook aandag aan diere- en openbare gesondheid en mededingendheid gee. Die landbou wil geld maak, maar het ’n verantwoordelikheid teenoor die publiek.
MARKTOEGANG
Verder het Olivier benadruk die Suid-Afrikaanse landbousektor moet mededingend wees, geleenthede benut en vir die wêreld wys waartoe hy in staat is, soos wat Brasilië vir ander lande gewys het hoe hy dinge doen waardeur hy ’n baie groot uitvoerder van rooivleis geword het.
Marktoegang is baie belangrik. “As ons nie ’n mark het waar ons ons produkte kan verkoop nie, help al ons harde werk niks nie. Ons moet toenemend na buitelandse markte kyk. Ons het meer as 14 miljoen beeste en voerkrale huisves op enige oomblik sowat 800 000 beeste. Dus kan ons nog baie groei, wat samewerking sal verg.”
Die een nuwe produk is ’n nuwe probiotika, Bovacillus™, vir strategiese toediening aan vee om ’n gesonde spysverteringstelsel met ’n gebalanseerde mikrobioom te bewerkstellig, skadelike patogene te bekamp en voedselveiligheid en diereprestasie te verbeter. SiloSolve™ is ’n bakteriese inokkulant wat die preservering en aërobiese stabiliteit in ’n kuilvoerbunker skep en bederwing voorkom.