Hy pas dit self streng in sy boerdery toe omdat dit in Suid-Afrika se belang is dat veesiektes afgeweer word. Hy en sy broer, Gerrie, vertel hoe hulle hul uitgebreide boerdery met vee, graan, lusern en groente bestuur.
Om só vroeg in hul lewe die verskil tussen swem en sink te leer toe hul ouers saam in ’n motorongeluk dood is, was nie die ideale manier vir mnre. James en Gerrie Faber om hulle vir hul taak as toekomstige boere te skool nie.
Dit kon egter nie anders nie, want met die dood in 1989 van hul ouers, mnr. Connie en me. Sophie Faber, moes die twee jongelinge die boerdery met vleisbeeste en Karakoel-skape by Barkly-Wes dadelik oorneem. Gerrie was toe besig met sy diensplig en het toestemming gekry om dit op te skort om te gaan boer.