
Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), wat maandeliks ’n verslag saamstel oor veesiektes wat by veeartse reg oor Suid-Afrika aangemeld word, sê dié siektes kon voorkom gewees het as diere volgens ’n bestuursprogram met die samewerking van plaaslike veeartse ingeënt was.
Anaplasmose en knopvelsiekte is in elk van die nege provinsies aangemeld, Afrika-rooiwater in al die provinsies buiten die Noord-Kaap en Asiatiese rooiwater in al die provinsies buiten Limpopo en die Noord-Kaap. Daar is geen gevalle van hartwater in die Vrystaat, Wes-Kaap en Noord-Kaap aangemeld nie. Volgens die verslag is dit veral Asiatiese rooiwater wat versprei en tot talle vrektes gelei het.
“Dit is nou die tyd om saam met jou veearts te gaan sit en jou bestuursprogram vir die volgende reënseisoen te beplan en te verbeter,” sê Malan. “Dit is belangrik om vas te stel watter siektes in jou gebied voorkom en wat die risiko is wat dit vir jou inhou. Doen die nodige stappe betyds, want uit ervaring weet ons dat die beskikbaarheid van entstowwe tydens ’n uitbreking ’n groot probleem kan wees. As entstowwe nie beskikbaar is nie, raak die bekamping van bosluise en insekte selfs nog belangriker.”
Skoue
Hy sê met skoue wat ná die covid-19-pandemie nou weer gehou word en weens die voorkoms van baie siektes moet te alle tye gehou word by streng biosekerheidprotokolle. “Vee wat ná ’n skou na die plaas teruggeneem word, moet eers 28 dae in kwarantyn geplaas en twee keer per dag vir tekens van siektes deurgekyk word voordat hulle weer by die res van die kudde kan aansluit.”
Malan raai boere ook aan om die nasionale dieregesondheidsforum se webblad gereeld te besoek omdat kwessies oor dieregesondheid daar gereeld bygewerk word. Hy verwys in sy verslag ook na haarwurm-uitbrekings wat in al die provinsies voorgekom het en op sommige plase tot buitengewone veerverliese gelei het.
Op een plaas het ’n tipe haarwurm voorgekom wat weerstand gebied het teen alle aktiewe ontwurmingsmiddels. Skape moet weekliks vir siektetekens dopgehou word en indien dit voorkom moet ’n plaaslike veearts geraadpleeg word om seker te maak watter ontwurmingsmiddels wel doeltreffend sal werk.
Trichomonose en bek-en-klouseer
Nog ’n siekte wat buite beheer is en waarvan daar elke maand nuwe gevalle aangemeld word, is die geslagsiekte trichomonose. Malan sê boere moet seker maak hulle koop bulle by boere wat biosekerheidsmaatreëls volg en hul diere gereeld toets vir siektes. “Geslagsiektes soos dié is kuddesiektes. Bereken jou verliese as ’n siekte soos hierdie nie op jou plaas uitgewis kan word nie. Hou in gedagte dat vroulike diere ook besmet kan wees.”
Malan verwys in sy verslag na die jongste verklaring van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oor bek-en-klouseer. Daarvolgens was daar teen 21 Junie al 91 gevalle van bek-en-klouseer in die voorheen siektevrye gebied. Die eerste gevalle het in Mei verlede jaar in KwaZulu-Natal begin. Die volgende uitbrekings het in Maart vanjaar in die voorheen bek-en-klouseer-vrye gebied van Limpopo begin en vandaar het dit gedurende Maart en April weens die onwettige vervoer van beeste na Noordwes, die Vrystaat en Gauteng versprei.
Dit is die eerste keer dat die siekte in vyf provinsies voorkom. Teen die verslagdatum was daar nog 66 geïdentifiseerde gevalle in KwaZulu-Natal, 8 in Limpopo, 14 in Noordwes, 2 in Gauteng en 1 in die Vrystaat.
Malan beklemtoon in sy verslag die rede vir hierdie uitbrekings was die onwettige vervoer van diere. Hy glo daar moet beheer oor die beweging van diere wees, almal moet op die uitkyk wees vir tekens van die siekte en siek diere moet afgesonder word. Dring aan op ’n sertifikaat dat diere wat aangekoop word, siektevry is en hou die diere vir 28 dae in kwarantyn.
Klik hier vir die tabel wat aandui watter vernaamste siektes en toestande in Mei by Ruvasa aangemeld is.