
Dié ernstige vermaning kom van dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), wat maandeliks ’n verslag saamstel oor veesiektes wat by veeartse reg oor Suid-Afrika aangemeld word. Hy sê die kernboodskap in sy verslag vir Julie is dat die uitbrekings van bek-en-klouseer en beesbrucellose gestuit moet word en dat die onwettige vervoer van beeste stopgesit moet word.
Sy verslag val saam met ’n landwye verbod van 21 dae wat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling op die verskuiwing van beeste ingestel het om veral bek-en-klouseer te stuit. Toe die verbod op 16 Augustus ingestel is, het bek-en-klouseer reeds op 116 plase, voerkrale en kommunale gebiede in ses provinsies voorgekom. Wat veral kommer gewek het, is dat daar 15 nuwe uitbrekings in twee weke voorgekom in twee provinsies wat nie voorheen werklik geraak was nie.
In ’n poging om die verspreiding te verhinder, word besmette beeste ingeëent in al die provinsies waar die siekte voorkom. Dit behels 388 449 inentings tot in daardie stadium. Die nasionale en provinsiale dieregesondheidsforums steun die verbod op die vervoer van beeste en beloof om alles moontlik te doen om ’n omdraaistrategie te bewerkstellig.
Malan beklemtoon om siektes in die veesektor te bekamp, sal die hele sektor moet saamwerk. “Dit is eintlik maklik: Maak seker dat jy biosekerheidsmaatreëls op jy eie plaas nakom en as jou bure, jou distrik, jou provinsie en jou land die voorbeeld navolg, kan ons die uitbreking van enige siekte keer. Eendrag maak mag!”
Hoewel die kollig nou op bek-en-klouseer is, waarsku Malan dat beesbrucellose (ook bekend as besmetlike misgeboorte) steeds ’n groot probleem is en in vyf provinsies voorkom. “As boere net aan wetgewing wil voldoen en hul diere teen brucellose inent, sal die voorkoms daarvan drasties afneem. Baie boere trek egter net die skouers op en sê: Hoekom moet ek my diere toets? Dit gaan net geld kos en as hulle positief toets, word my plaas onder kwarantyn geplaas.”
Voorkomende maatreëls wat wetlik vereis word, sluit in dat alle verse van vier tot agt maande oud eenmalig ingeënt moet word met ’n doeltreffende entstof vir brucellose. Dit is ’n kuddesiekte. As ’n dier in ’n kudde positief toets, word die hele kudde as besmet beskou.
Malan raai boere aan om hul risiko’s te bepaal deur met hul plaaslike veeartse te praat en vas te stel watter siektes in hul omgewing voorkom en hoe groot die risiko is. “Tree vroegtydig op. Uit ervaring weet ons dat die beskikbaarheid van entstowwe tydens ’n uitbreking ’n groot probleem kan raak.”
Die veesiekteverslag vir Julie is saamgestel uit 135 verslae deur veeartsenykundige praktyke en laboratoriums landwyd en sluit in verslae uit Mpumalanga (14), Gauteng (12), Limpopo (8), Noordwes (11), die Vrystaat (28), KwaZulu-Natal (18), die Oos-Kaap (13), die Wes-Kaap (22) en die Noord-Kaap (9).
Van die siektes wat in Julie in al nege provinsies voorgekom het, sluit in rondewurms, haarwurm, knopvelsiekte, vuilbek en omlope. Klik hier vir die tabel toon watter vernaamste siektes en toestande in Julie by Ruvasa aangemeld is.