Die Groblersdalse boer en ingenieur mnr. Lambert Theron, wat al ’n dekade lank sy boerderywortels in die voormalige Sowjet-land Georgië geplant het, het groot planne vir dié ras in Europa.
Die sterk begeerte om uit te brei en nie net van sy bestaan as boer en raadgewende elektriese ingenieur in Suid-Afrika afhanklik te wees nie, het mnr. Lambert Theron, Bonsmara-boer van Groblersdal, na ander lande laat kyk. Uiteindelik het sy keuse op Georgië geval.
“Die ongesonde politieke klimaat in Suid-Afrika het my aangespoor om nuwe weivelde te soek. Ek is sedert 1988 ’n professionele elektriese raadgewende ingenieur en werk steeds op daardie gebied terwyl ek ook boer, maar ek wou nie langer van ons regering afhanklik wees nie.”