
Die wolbedryf is nog nie eenvormig ten opsigte van die standaard wat toegepas moet word nie. Dit was die deurlopende tema van die Vrystaatse kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), wes van Brandfort.
Sprekers het ook hul kommer uitgespreek oor die moontlike uitwerking indien China – die vernaamste koper van plaaslike wol – by die konflik in Oekraïne betrokke raak.
Die sertifisering van wol en produksiepraktyke is volgens die sprekers van deurslaggewende belang om die Suid-Afrikaanse aandeel in die wolbedryf te versterk en die land as ’n niswolmark internasionaal te bemark.Die Suid-Afrikaanse wolprodusent het danksy innoverende maatreëls die afgelope twee jaar verskeie ekonomiese struikelblokke te bowe gekom.
Mnr. Herman Archer, Vrystaatse voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het gesê weens die globale covid-19-pandemie het die behoeftes van die eindverbruiker van wolprodukte totaal verander. “Daar word nou meer gekonsentreer op naspeurbaarheid en die sertifisering van omgewingsvriendelike praktyke van produsente wat die vraag en prys van wol gunstig beïnvloed het.”
Hy het in sy voorsittersrede gesê die plaaslike boere het dié verantwoordelikeid aanvaar en die gewenste praktyke op hul plase verbeter.
Mnr. Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools, het gesê die wêreldmark wil ’n deursigtige wolwaardeketting hê wat betroubaar, naspeurbaar en volhoubaar is. “Ons doelwit is om aan dié vereistes te voldoen. Produsente moet nie op die gehalte van hul skeersels inboet nie, maar hul praktyke moet gesertifiseer word,” sê hy. “Die produsent sal daardeur in staat gestel word om blootstelling vir sy wol in soveel markte moontlik verkry.”
Volgens Saayman word veral fynwol nou deur die sertifiseringvereiste geraak, maar dit word ook vir sterkwol in die vooruitsig gestel. Na verwagting sal die plaaslike bedryf teen einde 2022 sowat 30% tot 35% aan die sertifiseringsvereistes vir volhoubare skeersels voldoen.
Hy het gesê as China by die konflik tussen Rusland en Oekraïne betrokke raak, sal die tekstielbedryf nadelig geraak word, aangesien 80% van die plaaslike wolskeersel daarheen uitgevoer word.
Mnr. Billy van Zyl, nasionale voorsitter van die NWKV, het gesê een van die kwessies vir die wolbedryf is die verminderde verskepingskapasiteit wat wêreldwyd ’n probleem is. “Die minder skepe in ons hawens bring mee dat wolveilings nie weekliks kan plaasvind nie.”
Hy het produsente gevra om hul skeersels te laat sertifiseer, aangesien ’n premie betaal word vir dié wat aan die Cape Wools- en RWS-standaard voldoen.
Van Zyl is egter vol vertroue dat as China se vraag na plaaslike wol weens die konflik taan, soos in 2019 weens bek-en-klouseer en slenkdalkoors, sal ander markte soos Indië toetree.