
China het weens nuwe bek-en-klouseeruitbrekings ’n verbod geplaas op die invoer van alle diere met gesplete hoewe en die produkte van sulke diere.
“Die enigste manier hoe ons dit betekenisvol op lang termyn kan verander, is om ’n manier te vind om wol in Suid-Afrika te verwerk, soos tevore,” het mnr. Jacques le Roux, hoofbestuurder van wol by OVK, op die onlangse Karoo-winterwolfees op Middelburg in die Oos-Kaap gesê.
Kort nadat die Chinese departement van landbou die aanvanklike verbod ingestel het, het die land ingestem dat verwerkte wol uitgevoer kan word. Minder as 1% van Suid-Afrikaanse wol word egter plaaslik verwerk.
Le Roux het gesê die verbod op woluitvoer na China is tans nie die enigste kwessie vir Suid-Afrika nie, en dat die globale logistieke krisis die probleem vererger. Dit is nog ’n rede waarom Suid-Afrika sy wol plaaslik moet verwerk.
Ondersoek onderweg
Mnr. Paul Lynch van die plaaslike koper Standard Wool het op ’n vraag uit die gehoor gesê die bedryf loop reeds ’n lang pad om plaaslike verwerking te ondersoek. Hy het bygevoeg die wolfees is ’n belangrike byeenkoms vir alle belanghebbendes, veral vir finansiers om te weet dat daar ’n afsetpunt vir hul produkte is.
Hoewel dit baie geld sal kos om verwerking aan die gang te kry, toon syfers volgens Lynch dat dit lewensvatbaar is.
“Dit sal voordelig wees om binne twee jaar ’n oplossing te kry, maar ek weet dit is ’n lang tyd in die huidige situasie.
“Dit is belangrik om te weet wie die afsetpunte is en watter wol hulle gaan vereis. Dit moet ook finansieel lewensvatbaar wees.”
Lynch het gesê Australië kyk ook na alternatiewe opsies, veral met die huidige verwerkingsruimte by Europese meulenaars wat tot September 2023 vol bespreek is.
“Dit lyk of wolverwerking weer teruggebring sal word na sy bron. In Suid-Afrika is dit ook belangrik ten opsigte van werkskepping.”
Die grootte en skaal van die oplossing moet egter nog uitgepluis word.