Vir beesvleisprodusente is voerdoeltreffendheid uiters belangrik. Voeding behels ongeveer twee derdes van die koste van ’n koei-kalf-produksiesiklus, en heelwat meer in gevalle waar die reproduksietempo laag is. Nadat die kalwers gespeen is, verteenwoordig voer nóg 60% van die koste om hulle vir slag voor te berei.
Kommersiële voerkrale ondervind dat voerdoeltreffendheid die enkele grootste bepaler van winsgewendheid is. Dit is dan ook die rede hoekom voerkrale teen sekere rasse diskrimineer. In ’n land soos Suid-Afrika is voer ’n beperkende faktor in die meeste ekstensiewe vleisbeesgebiede.
Dit is ook belangrik om te noem dat voerdoeltreffendheid gekoppel is aan die kweekhuisgasproduksie deur beeste. Doeltreffender beeste produseer minder kweekhuisgasse per kilogram produk.