Die Schneider-familie van Grootfontein in die noorde van Namibië bly aan die voorpunt van wetenskaplike boerderymetodes wat genetiese vordering versnel. Die vorige suksesverhaal was voerdoeltreffendheid, en die klem skuif nou na akkurate seleksie vir vrugbaarheid.
Die Schneiders – Mecki en sy vrou, Brigitte, hul seun, Reimo, en skoondogter, Sonja – besit die Okabra Brahman- en Okasim Simmentaler-stoetery en boer ook met kommersiële beeste.
Die hoofplaas is Okamutombe buite Grootfontein waar hulle onlangs ’n boeredag gehou het om besoekende boere oor hul wetenskaplike boerderymetodes en jongste navorsing in te lig. Reimo het vertel hoe hulle beesmonitering toepas in hul seleksie vir vrugbaarheid.