Dit is ’n selfontwikkelde, saamgestelde beesras wat teelmateriaal van die Nguni-, Boran-, Mashona- en Beefmaster-ras bevat. Dit is spesiaal vir my boerdery se hoëdrukbeweidingstelsel ontwikkel nadat ek gesien het die meeste ander beesrasse se liggaamskondisietelling daal te veel in hierdie stelsel.
In ons omgewing boer beesboere gewoonlik met een grootvee-eenheid (GVE) vir elke 7-10 ha. My belading is 1 GVE per 2,85 ha. Dit is een van my herlewingslandboupraktyke om biodiversiteit bo én onder die grond te verbeter, en sal die volhoubaarheid, produktiwiteit en winsgewendheid verbeter.
Ons is nie die eienaars nie, maar eerder die rentmeesters van die natuur. Grondgesondheid, biodiversiteit en fotosintese help die gesondheid van die hele ekostelsel aan. Hoe sterker die ekostelsel is, hoe sterker is ons onderneming.