Die Jersey. Daar is Amerikaanse teelmateriaal wat ’n groterraam-Jersey oplewer, maar die Nieu-Seelandse teelmateriaal waarmee ons boer, is ’n mediumraambees. Die Jersey lewer melk vol room en vaste stowwe, daarom is dit ideaal vir kaas- en jogurtproduksie.
Ons mark verkies volroommelk om dikmelk mee te maak. Hoe meer vaste stowwe daar in die melk is, hoe meer dikmelk kry jy in verhouding tot die water wat afsak.
Ons probeer so winsgewend moontlik wees deur self kos vir ons beeste op die plaas te produseer. Dit sluit in mieliekuilvoer, Japannese radyse, oulandsgrasbale en hawer. Die grootste voordeel is egter die feit dat ons al ons melk self bemark.