Die speenkalfproduksiestelsel bly die logiese keuse in sekere beesboerderygebiede van Namibië. Sowat 46% (37,52 miljoen ha) van dié land se oppervlakte is onder beesboerdery, met verskillende produksiestelsels wat die volhoubaarheid en winsgewendheid daarvan bepaal.
Daar is baie maniere waarvolgens die beesvleisproduksiestelsel geklassifiseer kan word, maar die tipiese stelsel word bepaal deur die ouderdom en gewig wanneer beeste verhandel word.
Die produksiestelsel word egter nie deur die intensiteit van grondgebruik bepaal nie omdat boere met verskillende grondgebruike ewe winsgewend kan wees, terwyl hulle verskeie bestuurstelsels gebruik.