Sy nageslag sal nie noodwendig soos die bul lyk nie, maar eerder soos sy ma. As ’n teler ’n sterk bul uit ’n sterk koeilyn in ’n ander voortreflike koeilyn gebruik, versterk dit sy kans om ’n baie sterker nageslag te teel.
Só sê die 38-jarige mnr. Gert Nienaber, teler van die huidige Simmentaler-wêreldkampioen. Hy en sy pa, Peet (71), besit die PJ Nienaber-boerdery en Leeupoort Simmentaler-stoetery op die plaas Rhenosterfontein by Rustenburg.
Buiten die Simmentalers boer hulle met kommersiële beeste en Kalahari Red-bokke. Nienaber teel verskillende lyne Simmentalers. Die Z-lyn en L-lyn kom albei uit die voortreflike koei Labe, wat verantwoordelik was vir twee baie sterk lyne in die Leeupoort-kudde.