
Die kampioen, EF Primrose 925, behoort aan Enright Farms van Renfrew, Ontario, en mnr. Jack en me. Lauren Oattes van Cobden, Ontario. Sy het gedurende 2022 ’n indrukwekkende vertoningslys gehad deur in Toronto as Kanada se kampioen-Angus-koei en opperste skoukampioen aangewys te word, waarna sy ook as die Western Agribition se kampioen- vroulike swart Angus bekroon is.
Budler bied die afgelope jare ’n kompetisie aan waarin waar vleis- en dubbeldoelrasse op grond van foto’s meeding. Deelnemers word eers in elk van vier streke beoordeel, naamlik Asië en Afrika (wat Australië en Nieu-Seeland insluit), Suid-Amerika, Noord-Amerika en Europa. Die beeste in elke streek ding teen mekaar mee. Bulle en koeie neem afsonderlik deel. Die wenners, wat deur onafhanklike beoordelaars aangewys word, dring dan na die wêreldkampioenskap deur. Om die kroon te span, word ’n opperste wêreldkampioen uit die verskillende raswêreldkampioene aangewys.
EF Primrose 925 is eers as die ras se Mej. Noord-Amerika bekroon en daarna as Mej. Wêreld, met die kersie op die koek as die opperste kampioenbees van die wêreld.
Braford is naaswenner
Die naaswenner was ’n Braford-bul van Argentinië, Nes Agrolepal 115 Mitai, wat aan Cabaña La Domingo van Cordoba behoort. Hy is gedurende 2022 tydens die Braford-wêreldkongres as kampioenbul aangewys.
In Budler se kompetisie was hy die Suid-Amerikaanse Braford-kampioenbul en wêreldkampioen-Braford-bul waarna hy in die eindrondte teen die uiteindelike wenner van Kanada te staan gekom het.
Die beoordelaars was me. Sara Wiklert Petersson (Swede) en mnre. David Gidding (Nieu-Seeland), Saman Mitamphan (Thailand), Juan Fernando Saiz (Mexiko), Mauricio Groppo (Argentinië) en Mark Myatt Taylor (Kenia).
Suid-Afrika lewer vyf kampioene op
Suid-Afrika het vyf wêreldkampioene in die kompetisie opgelewer; vier bulle en ’n koei.
Die internasionale kampioenkoei is ’n Droughtmaster, Top Miss Magnificent 19-0153, wat deur die On Top Droughtmaster-stoetery van mnr. Johann Pretorius ingeskryf is en onlangs aan mnr. Rudi Lemcke van Ghanzi, Botswana, verkoop is. Sy het tot die voorlaaste rondte beoordeling deurgedring, waar sy deur die swart Angus-koei verslaan is.
Die wêreldkampioen-bulle is:
Droughtmaster. Denver H 18-0011 wat aan Hurwitz Farming van Davel behoort.
Limousin. Xourel Italia 16-38, geteel deur Xourel Limousins, Lichtenburg, ingeskryf deur Devlan Limousins, Heidelberg, en besit deur mnr. Dennis Magagane McAllister en me. Daphne Nkosi, Lareina Limousins, Edenville, Vrystaat.
Simbra. Brasim Quagga WWL 18-120, eiendom van RVB Simbras, Boshof, en geteel deur die Brasim Simbra-stoetery, Merafong City.
Simmentaler. Milagro Reactor ACM18-7 is geteel deur mnr. Andrew Masterson van die Milagro-stoetery by Oesterbaai in die Oos-Kaap. Reactor is op die nasionale Simmentaler-kampioenskap in April 2022 op Lichtenburg as die grootkampioenbul aangewys. Hy is op die nasionale Simmentaler-veiling aan dr. Obakeng Mfikwe van Lichtenburg verkoop.
Budler het in Desember 2012 van Johannesburg na Texas in Amerika verhuis en spits hom toe op die beoordeling van beeste op skoue reg oor die wêreld.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.