Dit het begin met die oproep wat Nel in 1979 gekry het toe hy nog ’n jong Vrystaatse boer by Brandfort was, en wat goeie nuus vir hom en sy vrou, Anita, gebring het. Diere van ’n top-bloedlyn was te koop. Dié blinkswart beeste was destyds nog skaars in dié geweste en om goeie teelmateriaal te kry om ’n stoetery te begin, was nie maklik nie.
“Eendag het oom Koos (Botha, van Vrede) ons gebel met die nuus dat oom Piet de Villiers van Vrede moontlik beeste op huurgrond moet verminder. Só kon ons 49 koeie koop. Ek sal nooit vergeet nie – daardie oggend om 03:30 het ons self die beeste op die trein by Vrede gelaai.”
Nel wou hom van vroeg af heeltyds op die teel van Drakensbergers toespits. “Die begrip prestasiemeting het in daardie tyd begin posvat en die Drakensberger-telers het dit baie vroeg aanvaar. Ons was die eerste ras in Suid-Afrika wat prestasietoetsing verpligtend gemaak het vir ons telers.”