Swerms bruinsprinkane (Locustana pardalina) word sedert 2020 in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap gewaar, met uitbrekings in die huidige reënseisoen van September en Oktober af.
Vanjaar is swerms ook naby Calitzdorp in die Klein-Karoo opgemerk en die vrees bestaan dat dit na die Oos-Kaapse besproeiingsgebiede sou versprei. Bruinsprinkane voed op ’n verskeidenheid karoograsse, maar in droë toestande ook aan die blare en bas van karoobossies en enigiets anders wat eetbaar is.
Volgens dr. Roger Price, navorsingsleier van insek- ekologie by die Landbounavorsingsraad, is die huidige uitbreking ongetwyfeld een van die grootste aangemelde uitbrekings, met sommige sprinkaanbeamptes wat meen dit is die grootste nóg wat hulle al waargeneem het.