Dit is bekend as ’n materiaal wat die draer daarvan lekker warm kan hou.
Die vraag is of dit ook ’n opsie is vir die ontluikende tegniese en funksionele tekstielmark, waar materiale ontwikkel word vir gebruik in produkte soos oefenklere, brandwerende oorpakke en selfs mediese tekstiele.
Dié onderwerp is bestudeer deur dr. Adine Gericke, dosent in tekstielwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, as deel van haar onlangse doktorale studie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die navorsing is gedoen met die samewerking van die UV en die Tegniese Universiteit van Liberec in Tsjeggië.