
’n Rekordmarkseisoen, hoop op ’n goeie reënseisoen en belangstelling buite tradisionele produksiegebiede het gelei tot een van die sybokhaarbedryf se beste ramveilings.
Die ramveiling van Nuweland Angoras en gasverkopers is by die Nuweland-boerdery van Aberdeen in die Oos-Kaap aangebied. ’n Rekordgemiddelde prys van R14 471,29 is vir 87 ramme betaal. Stoetramme het gemiddeld R49 400 behaal, geselekteerde kudderamme gemiddeld R20 100 en kudderamme gemiddeld R9 100.
Mnr. Petrie Maré, bestuurder van dieregenetika en -ontwikkeling by House of Fibre, sê sybokhaapryse het die afgelope ses maande rekordhoogtes bereik en die rampryse is ’n direkte reaksie, met boere wat baie geesdriftig is.
Die hoogste prys van die veiling was R100 000 wat mnr. Reco Pieterse van Wolmaransstad vir ’n ram van mnre. Jan en Jannie Lategan van Fairview Angoras in Aberdeen betaal het.
’n Rekordprys van R3 656 stuk is betaal vir 115 geselekteerde tweetandkudde-ooitjies. Die ooie is opgeraap deur kopers van Wolmaransstad, Leeudoringstad, Bronkhorstspruit en Robertson.
Volgens mnr. Lloyd Short, voorsitter van die Angora-ramtelersvereniging, is dit baie gunstig vir die bedryf. Hy skryf die bykans ongehoorde pryse van die afgelope paar jaar toe aan die belangstelling van nuwe toetreders tot die bedryf van buite die tradisionele produksiegebiede. “Dit is ’n aanduiding van die vraag en aanbod. En, weens die droogte wat ons beleef, is daar nie werklik meer diere om te verkoop nie.”
Short sê dat stoet- en kommersiële ramme van topgehalte aangebied is en dit word in die pryse weerspieël.
Buitestreke
Volgens Maré is daar al die afgelope twee tot drie jaar ál meer belangstelling uit Noordwes, veral uit die saaigedeeltes, waar boere soek na alternatiewe opsies op hul uitvallande weens veediefstal.
Weens die droogte is minder ooie beskikbaar. Met die reën wat al geval het, hou die boere in die tradisionele areas vas aan hul diere, want hul kuddes is heelwat kleiner. Daarby het kuddeboere weens finansiële probeleme weens die droogte die afgelope paar jaar minder ramme ingekoop. Hoewel hul geldsake steeds knyp, moet hulle nou ramme inkoop om hul kuddes in stand te hou.
Short sê die meeste van die produksiestreke het reën gekry, hoewel daar steeds gebiede is wat nog droog is. Boere is baie meer optimisties as twee maande gelede, en daar is tekens van ’n meer normale seisoen.
“Die reën het nie geld gebring nie, maar dit bring hoop,” sê Maré. Ná die covid-19-inperkings en slegte omstandighede weens die droogte sien boere daarna uit om na veilings te gaan en mekaar te sien. “Dit skep ’n lekker atmosfeer en boere is aangespoor om R500 of R1 000 meer op die veiling te betaal as in die verlede.”
Maré voorsien dat goeie pryse vir diere betaal sal word op die komende veilings wat in die nuwe jaar aangebied word.