Die bederwing van kuilvoer kom by ál die verskillende metodes van opberging voor, hetsy ’n kuilvoerbunker, silosakke of toegedraaide rondebale. Dit is maklik om foute te maak wat veroorsaak dat groot verliese aan droëmateriaal gely word, maar met die nodige sorg is kuilvoer ’n baie goeie metode om rumateriaal se waarde te verbeter en dit lank op te berg.
Die hoofdoel van kuilvoer is die behoud van verteerbare vesel, proteïen en energie in die materiaal en om die proteïen in ’n formaat te behou wat doeltreffend vir die herkouer is.
Mnr. Richardt Venter, ’n internasionale kuilvoerraadgewer van AGSCI Unlimited, het boere op ’n inligtingsdag by die West- end-landgoed van mnre. Hannes en Hano Lombard oor presisiemetodes vir die maak van kuilvoer ingelig.