Boerderytoestande verskil baie in Suider-Afrika en beesboere moet in daardie toestande geld kan maak en vooruit boer. Hulle moet dus nie net met ’n ras boer wat uitgeknip is vir die betrokke toestande nie – hulle moet ook die regte bulle gebruik.
Die ideale bul is ’n goedbespierde dier wat hard grootgeword het sodat hy die koeie onder alle omstandighede kan dek. Uiteraard is seleksie vir eienskappe soos ’n lae geboortegewig en hoë speengewig altyd belangrik, maar as ’n bul nie gehard is nie, sal hy nie as kuddebul deug nie, hetsy in ’n stoetery of kommersiële beesboerdery.
Die legendariese mnr. Zulu (Gerrit Johan) du Toit het in 1968 in vennootskap met mnr. Albert Janovsky by Middelburg in Mpumalanga begin boer en die maatskappy Alzu Ondernemings (Albert en Zulu saamgevoeg) geregistreer, wat spoedig tot ’n bekende Suid-Afrikaanse naam uitgestyg het.