
Die wenner van Solidariteit Helpende Hand se eerste entrepreneurskompetisie vir skoliere het die oog van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging gevang. Die vereniging het besluit om in Februarie volgende jaar, tydens die jaarlikse Bloemfonteinse Skou, die diere aan die 13-jarige Eddie Pienaar te oorhandig. Hy is ? graad 7-leerling aan Laerskool Dagbreek in Carletonville.
“Ek is geweldig beïndruk met die kind. Mens kan sommer sien dis hy wat alles self doen, dis nie ? outjie met ? pa met ? klomp geld wat nou suksesvol is nie,” sê mnr. Stephanus Malan, voorsitter van die vereniging. “Ons het al by van ons lede gehoor dat Eddie ? besondere liefde vir die ras het en da thy by die Nampo-oesdag heelwat belangstelling in die bokke getoon het. Dis ? ras wat my ook na aan die hart lê.”
Malan sê hulle het verneem dat Eddie met sy prysgeld van R15 000 nog stoetooie wil koop, maar aangesien een ooi sowat R5050 kos, het hulle besluit om hom te help. “Om in so ? kind te belê, is ook ? belegging in die bedryf. Dit is ? voorreg.”
Belangstelling by kinders
Die kompetisie is luidens ’n verklaring van stapel gestuur om belangstelling in entrepeneurskap by jong mense aan te wakker en om hulle meer oor die sakewêreld te leer. Eddie en sy skool het elk R15 000 gewen.
Die tiener boer al sedert hy vyf jaar oud is met boerbokke. Sy kudde was aanvanklik net drie bokke sterk, maar dit het gegroei tot ’n kudde van sowat 100 bokke. Hy bestee soveel as moontlik van sy tyd aan sy kudde, en woon selfs vendusies op sy eie by om bokke te koop en verkoop.
“Eddie is uit sy vel van geluk,” sê mnr. Schalk Pienaar, sy oupa. “Hy is so dankbaar vir dit wat die kompetisie oor sy pad gebring het. Hy kan nie wag vir Februarie nie en is opgewonde om te begin teel met die stoet.”
Die vereniging het ook vir Eddie gratis lidmaatskap gegee. “Deur ? lid van die klub te wees, word hy outomaties op hoogte gehou van die jongste nuus rakende boerbokke,” vertel Malan.
Byskrif:
Eddie en sy Laerskool het elk R15 000 gewen. Foto: VERSKAF