Jare lank was die Boerbok een van die stiefkinders op Suid-Afrikaanse plase, totdat ’n paar boere van Somerset-Oos besluit het om hom te verbeter tot ’n vleisbok wat ’n waardige slagdier kan wees.
Die nuus oor dié pogings het waarskynlik nie net tot Suid-Afrika beperk gebly nie, want onlangs het mnr. Theunis Botha ’n bestelling van die Griekse regering vir 5 000 verbeterde Boerbokke ontvang. Dit was bestem vir sy teruggekeerde soldate sodat hulle daarmee kon gaan boer.
Botha kon ongelukkig nie die bestelling uitvoer nie, want 5 000 Boerbokke is darem te veel gevra. As ’n besonder geesdriftige teler van die verbeterde Boerbok is hy egter hoogs in sy skik oor die buitelandse belangstelling.